Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Amerikaanse president Donald Trump beplan om befondsing aan Suid-Afrika te te staak oor die land se grondonteieningswette. Dit het die vrese laat opvlam dat die handelsbetrekkinge tussen die twee lande bedreig word. President Cyril Ramaphosa sal nou die Amerikaanse president nader om enige misverstande uit die weg te ruim.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Ramaphosa wil die Onteieningswet aan Trump verduidelik en misverstande uit die weg ruim. Volgens kenners is die president se besluit om die kwessie volgens diplomatieke prosesse op te los die regte stap om te doen.
En tweedens skryf die koerant Darren Wilken en Tiona Moodley van Midrand wat onder meer aangekla word van die verkoop van kinderpornografie het glo miljoene verdien.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, het in reaksie op Trump se onttrekking van fondse gedreig om kritieke minerale van die VSA te weerhou.
En skryf tweedens die EFF-leier, Julius Malema het geëis dat Ramaphosa beslissend optree teen Rwanda, insluitend die sluiting van die Rwandese ambassade in Pretoria. Ramaphosa het egter onderneem om voort te gaan met ondersteuning aan die DRK.
# Sowetan:
Berig dit het in die hof aan die lig gekom dat die 32-jarige Keneilwe Shalaba ‘n groot bedrag geld in haar bankrekening ontvang het ná haar babaseun se verdwyning. Die aanklaer sê sy weier ook om vrae te beantwoord oor waarvoor die betaling was en waar dit vandaan kom.
# En The Citizen:
Lei met: “TRUMP’S SHADOW HANGS OVER SA”. Die koerant skryf president Trump het die dollar teen Suid-Afrika bewapen.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die Trump-kwessie. Die koerant berig ook Mantashe sê Suid-Afrika moet sy minerale van die VSA weerhou.
Tweedens het die koerant ‘n montage van 2024 matrieks op sy voorblad. Die koerant het vandag ‘n volledige bylae oor skoolverlaters.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor Trump. Die koerant skryf AfriForum het daarop aangedring dat Washington ANC-politici moet straf en nie gewone burgers nie.
En tweedens is daar nuus oor die geskorste stadsbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi. Hy het ingestem tot ‘n skikking van 6,5-miljoen-rand om te bedank maar die raad moet dit eers goedkeur.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens Trump het Suid-Afrika in sy visier.
En tweedens word berig kenners verwag ‘n somber Staatsrede met die land se soldate wat in die DRK dood is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nadat hul babadogtertjie sowat drie jaar gelede in Otjiwarongo se staatshospitaal doodgebore is, het die hoërhof in Windhoek beveel dat die staat 1,2-miljoen-rand aan die ouers moet betaal.
En tweedens skryf die koerant statistiek oor inkomsteverspreiding in Namibië beklemtoon die ongelykheid in die land. Ongeveer 55,4-persent van werkende individue verdien ‘n bruto maandelikse inkomste van minder as vyf-duisend-rand.