Nuus 11:00
BULLETIN 3 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump sny alle toekomstige Amerikaanse befondsing aan Suid-Afrika weens die Onteieningswet
# Die Departement Vervoer beraam planne om voldoende stralerbrandstof op die OR Tambo-lughawe te verseker
# En gholf: McIlroy wen die AT&T Pebble Beach Pro-Am
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy sny alle toekomstige befondsing aan Suid-Afrika af tot ‘n volledige ondersoek na die land se grondonteieningsbeleid afgehandel is. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa verlede maand die Onteieningswet bekragtig het. Die wet bepaal dat die regering onder sekere omstandighede geen vergoeding hoef te betaal wanneer hy besluit om grond in openbare belang te onteien nie. Trump sê die wet is ʼn enorme menseregte-oortreding:
Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het Trump intussen gevra om Suid-Afrika se beleide binne ʼn raamwerk van ʼn grondwetlike demokrasie te beskou. Lamola sê Trump se raadgewers sal tydens die ondersoek moontlik tot die gevolgtrekking kom dat die land se Onteieningswet nie buitengewoon is nie omdat baie ander lande soortgelyke wetgewing het.
# Die Departement van Vervoer sê hy het ʼn logistieke plan aanvaar om stralerbrandstof van die Durbanse hawe na die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng te vervoer. Die lughawe het ʼn tekort aan brandstof gehad nadat die Nasionale Petroleumraffineerders van Suid-Afrika op 4 Januarie ná ʼn brand moes sluit. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die lughawe se openingsvoorraad stralerbrandstof was Saterdag 20,1-miljoen liter:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie begin vandag ʼn nasionale ondersoek om te bepaal watter uitwerking Eskom se ladingvermindering op menseregte het. Ladingvermindering is ʼn doelgerigte kragbestuur-strategie wat spesifieke gebiede, veral voorheen benadeelde gebiede, tydens spitstye raak. Die kommissie sê die doel van die ondersoek sluit in die evaluering van die regs-, beleids- en praktiese regverdiging van ladingvermindering en die uitwerking daarvan op die betrokke gemeenskappe. Die ondersoek vind vandag, môre en op 18 Februarie plaas.
# Gholf: Die viermalige Major-kampioen, Rory McIlroy, het sy PGA-seisoen op ʼn wen-noot afgeskop met ʼn oorwinning met twee houe op die AT&T Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië. Die Noord-Ierse speler het met ses onder 66 geëindig om op 21 onder baansyfer sy 27ste sege op die PGA-toernooi te behaal. Shane Lowry van Ierland is tweede en Justin Rose van Engeland en die Amerikaner Lucas Glover saam derde. McIlroy sê ʼn oorwinning op een van gholf se katedrale is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-147-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-787-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….