Nuus 07:00
BULLETIN 3 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramokgopa waarsku enigiemand wat verdeeldheid in die ANC probeer saai
# Een-en-twintig polisiebeamptes is tydens die feestyd doodgeskiet
# En Wouter Kellerman wen sy derde Grammy-toekenning
# Die ANC se tesourier-generaal, Gwen Ramokgopa, het lede gewaarsku om enigiemand wat die party verdeel teen te staan. Sy het gister die hoofrede by die Alexandra-stadion gelewer tydens die ANC in Gauteng se 113de provinsiale saamtrek vir die 8 Januarie-verklaring. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het besluit om die provinsiale uitvoerende komitees van Gauteng en KwaZulu-Natal te herstruktureer. Ramokgopa sê hulle sal nie toelaat dat die ANC verdeel word nie:
# Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola sê die voortdurende aanvalle en moord op die mans en vroue in blou kan nie voortgaan nie. Nege polisiebeamptes in die land wat aan diens was en 12 polisiebeamptes wat nie aan diens was nie, is sedert Oktober verlede jaar tot op hede doodgeskiet. Masemola sê dit is ‘n misdaad waarteen alle Suid-Afrikaners moet opstaan sodat sulke optrede voorkom kan word:
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê nakoming onder sakeondernemings bly ‘n probleem in alle munisipaliteite. Owerhede het 296 spazawinkels en voedselfasiliteite wat nie regulasies nakom nie, gesluit as deel van die provinsiale regering se optrede teen onwettige en onveilige ondernemings. Maile sê baie het nie aan basiese omgewingsgesondheid- en veiligheidstandaarde voldoen nie, terwyl ander sonder behoorlike soneringsgoedkeuring funksioneer. Spazawinkels en ondernemings wat kos hanteer moet teen die 28ste van hierdie maand registreer.
# Amerika se president Donald Trump sê tariewe wat teen Mexiko, Kanada en China ingestel is, kan pyn veroorsaak maar dit sal die moeite werd wees. ʼn Tarief van 25-persent word gehef op alle invoere uit Mexiko en die meeste goedere uit Kanada, en tien-persent op Chinese goedere. Meer as ʼn kwart van alle Amerikaanse invoere kom uit Kanada en Mexiko en sluit ʼn aansienlike deel van Amerikaners se kos in verskeie belangrike kategorieë in. Trump sê Amerika moenie duisend-miljarde dollars verloor omdat hy ander lande subsidieer nie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Daniel van Tonder het die MyGolfLife Ope by die Pecanwood Gholf- en Buiteklub in Noordwes met twee houe gewen om sy vierde Sonskyntoer-titel van die seisoen op te raap. Hy het met 67 geëindig om op 27 houe onder baansyfer klaar te maak en sy tweede oorwinning in twee weke te behaal nadat hy ook die SDC Ope gewen het. Sy landgenoot Martin Vorster is tweede en die Australiër, Danny List, derde. Van Tonder sê hy het hard gewerk en dis lekker om die gevolge daarvan te sien:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-480-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-783-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse fluitspeler, komponis en vervaardiger, Wouter Kellerman, het ʼn Grammy-toekenning gewen in die kategorie vir beste New Age, Ambient, or Chant-album. Dit is vir sy album, Triveni, ʼn meditatiewe en geestelike opname saam met die Japannese tjellis, Eru Matsumoto, en Indiese stemkunstenaar, Chandrika Tandon. Kellerman is die enigste Suid-Afrikaanse solo-kunstenaar wat vyf Grammy-benoemings ontvang het. In sy aanvaardingstoespraak het Kellerman, wat met drie Grammy’s spog, gesê dis wonderlik om te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….