Nuus 09:00
BULLETIN 1 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê Eskom moet iets doen aan die miljarde wat weens korrupsie verlore gaan
# Die Transnet-korrupsiesaak is uitgestel vir verhoor
# En krieket: ‘n Groot oorwinning vir MI Cape Town teen Pretoria Capitals in SA20
# Cosatu sê Eskom moet iets doen aan die miljarde wat hy verloor weens korrupsie, verkwistende besteding, kabeldiefstal en mense wat nie betaal nie, en ophou om werkersklasfamilies met die rekening daarvoor op te saal. Die Nasionale Energiereguleerder het ‘n tariefverhoging van 12,7-persent vir die 2025/2026-boekjaar aan Eskom toegeken. Die woordvoerder van Cosatu, Zanele Sabela, sê die regering moet beslis optree teen die 90-miljard-rand wat munisipaliteite Eskom skuld:
Intussen sê Eskom die naweek se beurtkrag laat toe dat die oopsiklus-gasturbines en gepompde bergingsreserwes aangevul kan word om voor te berei vir volgende week. Die kragnutsmaatskappy het na ‘n tydelike terugslag fase drie beurtkrag ingestel tot middermag môre. Eskom se woordvoerder Daphne Mokwena sê hulle is vasberade om seker te maak dat Suid-Afrika op geen manier terugkeer na die vlakke van beurtkrag wat burgers in 2023 beleef het nie:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het Transnet se lokomotief-korrupsiesaak tot 2 Februarie volgende jaar uitgestel vir verhoor. Voormalige bestuurders, insluitend Brian Molefe en sakevennote, staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery rakende ‘n kontrak van 54-miljard-rand. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê die hof het beveel alle verdere ontbrekende besonderhede oor die saak moet teen 30 Junie opgelos word:
# Kongolese troepe, met die steun van Burundi se weermag, het gister blykbaar rebelle wat deur Rwanda gesteun word, se poging gefnuik om suidwaarts uit te brei. Die rebelle wil hulle houvas versterk op die ooste van die Kongo in ‘n offensief wat vrese laat ontstaan het oor ‘n breër streekskonflik. Vroeër die week het die Tutsi-geleide M23-rebelle die grootste stad in die ooste van die DRK, Goma, ingeneem. Die goewerneur van suid-Kivu, Jean-Jacques Purusi, het aan Reuters gesê die Kongolese leër en sy bondgenote kon die rebelle terughou. Dertien Suid-Afrikaanse soldate is onlangs in die konflik dood.
# En, krieket: MI Cape Town het gisteraand op oortuigende wyse die topposisie ingeneem op die SA20-punteleer met ‘n oorwinning met 27 lopies oor die gashere, Pretoria Capitals, in Centurion. Terwyl hulle 223 moes aanteken om te wen is die Capitals beperk tot 195 vir 8. In die besoekers se vroeëre 222 vir 3 het Dewald Brewis en Reza Hendricks die toon aangegee. MI Cape Town en die Capitals meet môre weer kragte in Kaapstad, terwyl Paarl Royals vanmiddag in Gqeberha te staan kom teen Sunrisers Eastern Cape.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….