Nuus 16:00
BULLETIN 31 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF beloof ‘n meer verenigde party om Suid-Afrikaners te dien
# Die minister van Vervoer ondersteun deskundige aanbevelings om lugverkeer-vertragings reg te stel
# En krieket: Virat Kohli stel aanhangers teleur toe hy na 12-jaar terugkeer na plaaslike krieket
# Die leier van die EFF, Julius Malema, sê die party bly daartoe verbind om die lewens van kwesbare Suid-Afrikaners te verbeter. Malema het meer as twee-duisend-500 partylede en verkose leiers tydens die derde Nasionale Volksvergadering by Nasrec in Johannesburg toegespreek. Hy sê die byeenkoms is daarop gemik om besluite op die party se konferensie in Desember af te handel. Malema het die party se teenstand teen witmonopolie-kapitaal herhaal en homself opnuut tot dissipline en dienslewering verbind:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het dringende hervormings vir die Lugverkeer- en Navigasiedienste goedgekeur, nadat ‘n deskundige verslag personeeltekorte en verouderde stelsels uitgelig het. ‘n Komitee wat bestaan uit kundiges is aangestel om verlede jaar se vlugvertragings te ondersoek en het ontdek die diens worstel met onbetroubare kommunikasie- en navigasiestelsels. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi sê die komitee het aanbeveel daar moet meer lugverkeerbeheerders aangestel word, sleutelstelsels moet opgeknap word en die bestuur moet verbeter.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het nóg ‘n agtereenvolgende skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal se kantoor vir die 2023/’24-boekjaar verwelkom. Hill-Lewis sê diensleweringshoogtepunte in die verslag sluit in ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord vir die besteding van 9,4-miljard-rand aan infrastruktuur en ‘n besparing van 348-miljoen-rand danksy energiedoeltreffende bedrywighede:
In die noorde sê die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, die metro is besig om die kultuur van regering te verander deur oplossings te vind vir die kernoorsake van onderprestasie, soos deur die ouditeur-generaal beklemtoon. Die metro se 2023/’24-ouditverslag is dié week ingedien en aanvaar. Moya se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê die burgemeester het ‘n vergadering met die Komitee vir Gevolgbestuur belê, wat geskep is om toesig te hou oor kwessies rakende finansies, die reg en menslike hulpbronne:
# Krieket: Die Indiese superster Virat Kohli het die bewonderende skare in Delhi teleurgestel toe hy met die kolf misluk het met sy terugkeer na plaaslike krieket ná 12 jaar. Die beheerliggaam het gekontrakteerde spelers gedwing om plaaslik te speel ná ‘n droewige vertoning in ‘n onlangse toetsreeks teen Australië. Duisende toeskouers het Kohli toegejuig toe hy uitgestap het om te kolf, maar sy verblyf was van korte duur en hy is vir slegs ses uitgeboul. Moedelose aanhangers het opgestaan en geloop toe Kohli teruggestap het na die pawiljoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-817-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-804-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….