Nuus 15:00
BULLETIN 31 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Vervoer ondersteun deskundige aanbevelings om lugverkeer-vertragings reg te stel
# Solidariteit stel ‘n nuwe Wetsontwerp op Gesondheidsorg voor as alternatief vir die NGV
# En rugby: Frankryk en ‘n sukkelende Wallis skop vanaand die Sesnasiesreeks af in Parys
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het dringende hervormings vir die Lugverkeer- en Navigasiedienste goedgekeur nadat ‘n deskundige verslag personeeltekorte en verouderde stelsels uitgelig het. ‘n Komitee wat bestaan uit kundiges is aangestel om verlede jaar se vlugvertragings te ondersoek en het ontdek die diens worstel met onbetroubare kommunikasie- en navigasiestelsels. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die komitee het aanbeveel meer lugverkeerbeheerders moet aangestel word, sleutelstelsels moet opgeknap word en die bestuur moet verbeter:
# Solidariteit se Navorsingsinstituut het ‘n nuwe Wetsontwerp op Gesondheidsorg in die Parlement ter tafel gelê as alternatief vir die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering, wat volgens hom onbekostigbaar is. Partye soos die Vryheidsfront Plus en die DA ondersteun die alternatiewe plan. Die wetsontwerp het ten doel om mediese skemas bekostigbaar te maak, met planne op intreevlak wat ongeveer 300-rand per maand kos. Theuns du Buisson van Solidariteit sê, anders as die NGV, sal hierdie wetsontwerp nie staatmaak op verhoogde belasting nie, maar op werkgewer- en werknemerbydraes:
# Die voorverhoor in die verdwyning van Joslin Smith is in die Hooggeregshof in Kaapstad uitgestel tot einde volgende maand. Joslin se ma, Kelly Smith, was alleen teenwoordig want haar kêrel, Jacquen Appollis, en die ander beskuldigde, Steveno van Rhyn, het weens ‘n administratiewe fout nie by die hof opgedaag nie. Die drie word aangekla van die verdwyning van die sewejarige Joslin in Februarie verlede jaar van haar huis in Saldanhabaai aan die Weskus. Regter Gayaat da Silva Salie het beveel hulle moet op 28 Februarie weer in die hof wees.
# Rugby: Frankryk en die sukkelende Wallis skop vanaand die Sesnasiesreeks in Parys af. Frankryk het baie verbeter sedert Fabian Galthie in 2020 hoofafrigter geword het, maar kon die trofee net drie jaar gelede inpalm. Wallis was verlede jaar laaste en het sy laaste 12 toetse verloor. Galthie sê die eerste wedstryd is altyd spesiaal, wie ookal die teenstander, en dit moet met omsigtigheid en motivering benader word. Skotland speel môre in Edinburgh teen Italië en Ierland en Engeland pak mekaar in Dublin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-745-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-796-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-48-sent per vat.
# En laastens: ‘n Jong vul wat drie weke gelede gebore is, pas mooi in by ‘n trop Kaapse bergsebras in die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg-streek van die Wes-Kaap. Die opwindende geboorte val saam met Internasionale Sebradag, wat vandag gevier word. Die dag wys op die behoefte om sebra-spesies te beskerm. Cape Nature se bewaringspogings het daartoe gelei dat die spesie, wat eens bedreigd was, steeds groei. ‘n Onlangse lugopname het meer as ‘n honderd bergsebras getoon in De Hoop en die Overberg-toetsterrein. Besoekers word intussen gemaan om natuurlewe met respek te besigtig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….