Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorverhoor in Joslin Smith se verdwyning word tot 28 Februarie uitgestel
# Die Parlement oorweeg ‘n blitsdebat oor die Weermag-krisis
# En rugby: Michael Cheika verlaat Leicester na slegs een seisoen
# Die voorverhoor in die verdwyning van Joslin Smith is in die Hooggeregshof in Kaapstad uitgestel tot einde volgende maand. Joslin se ma, Kelly Smith, was alleen teenwoordig want haar kêrel, Jacquen Appollis, en die ander beskuldigde, Steveno van Rhyn, het weens ‘n administratiewe fout nie by die hof opgedaag nie. Die drie word aangekla van die verdwyning van die sewejarige Joslin van haar huis in Saldanhabaai aan die Weskus in Februarie verlede jaar. Regter Gayaat da Silva Salie het beveel hulle moet op 28 Februarie weer in die hof wees.
# Die GOOD-party verwerp die bewering dat oudpresident Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, aangekla word om politieke wraak te neem. Zuma-Sambudla staan tereg op aanklagte van aanhitsing om terrorisme en openbare geweld te pleeg oor haar rol in die geweld in KwaZulul-Natal en Gauteng in Julie 2021. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dis ernstige aanklagte:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, bevestig die Programmeringskomitee oorweeg ‘n blitsdebat oor befondsing en hulpbronne vir die Weermag. Dit volg op kommer van politieke partye nadat 13 soldate binne een week gedurende die vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo omgekom het. Volgens Didiza stem LP’s saam die saak is dringend en vereis onmiddellike aandag om die uitdagings van die SANW aan te pak:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ‘n baie beter geïntegreerde en gekoördineerde benadering tot grensbestuur is oor die 2024/’25-feestydperk toegepas as ooit tevore. Die minister en die Grensbestuursowerheid het die media ingelig oor die uitwerking van sy feestyd-optredes. Die owerheid het van 6 Desember tot 18 Januarie meer as vyf-miljoen mense se wettige beweging deur die land se 71 toegangspunte bestuur. Schreiber het die owerheid gelukgewens met die toets van nuwe tegnologie:
# Rugby: Die Wallabies se gewese hoofafrigter, Michael Cheika, gaan Leicester Tigers die einde van die seisoen verlaat. Hy het verlede jaar by die Engelse Premierklub aangesluit, maar besluit om nie sy kontrak te verlang nie. Cheika is in 2019 by die Wallabies weg en het twee keer vir Argentinië afgerig voor hy na die Tigers is. Uitvoerende hoof Andrea Pinchen sê daar word tans gesoek na ‘n geskikte plaasvervanger. Gerugte doen die ronde die gewese stut van Leicester en hoofafrigter van Munster, Graham Rowntree, is dalk die opvolger.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-294-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-792-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….