Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Jong vul wat drie weke gelede gebore is, pas mooi in by ‘n trop Kaapse bergsebras in die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg-streek van die Wes-Kaap. Die opwindende geboorte val saam met Internasionale Sebradag, wat vandag gevier word. Die dag wys op die behoefte om sebra-spesies te beskerm. Cape Nature se bewaringspogings het daartoe gelei dat die spesie, wat eens bedreigd was, steeds groei. ‘n Onlangse lugopname het meer as ‘n honderd bergsebras getoon in De Hoop en die Overberg-toetsterrein. Besoekers word intussen gemaan om natuurlewe met respek te besigtig.
# Richards Bay Minerals in KwaZulu-Natal het ‘n derde kragaankoopooreenkoms met Red Rocket South Africa onderteken voor die oprigting van die Overbergse windplaas in die Wes-Kaap. Die projek sal vanjaar begin en RBM se kweekhuisgasuitstralings met 30-persent verminder. RBM sal 230-megawatt van die plaas se 380-megawatt ontvang. Die onderneming sê hierdie ooreenkoms sal bydra tot sy hernubare energie-pogings en vorm deel van sy verbintenis om teen 2050 netto-nul-uitstralings te bereik.
# En ten slotte: Afrikaleiers, wêreldwye beleggers en innoveerders berei voor vir gesprekke oor die bevordering van volhoubare ontwikkelingsprojekte om klimaatsveerkragtigheid te kweek. Afrika se Groen Ekonomie-beraad word volgende maand weer in Kaapstad aangebied. Meer as 50 nuwe en bestaande projekte is beskikbaar vir beleggers in hernubare energie, groenvervoer en volhoubare-landbou. Die klem sal val op klimaatfinansiering, beleidshervorming en geslagsfinansiering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….