Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moontlike fase vier-beurtkrag die naweek
# Die Parlement oorweeg ‘n blitsdebat oor die SANW-krisis
# En, rugby: Skotland bring slot Jonny Gray terug en Duhan van der Merwe is fiks
# Eskom waarsku oor ‘n groot moontlikheid van beurtkrag die naweek, ná meer as tien maande se ononderbroke kragtoevoer. Noodreserwes raak min weens gebreekte eenhede en noodsaaklike herstelwerk, en tot fase vier-beurtkrag kan oor die naweek nodig wees. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die somervooruitsigte bly onveranderd:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, bevestig die Programmeringskomitee oorweeg ‘n blitsdebat oor befondsing en hulpbronne vir die Weermag. Dit volg op kommer van politieke partye nadat 13 soldate binne een week gedurende die vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo omgekom het. Volgens Didiza stem LP’s saam die saak is dringend en vereis onmiddellike aandag om die uitdagings van die SANW aan te pak:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, dreig met regstappe teen joernaliste wat oor haar geldsake berig en voer aan dis laster en skending van haar privaatheid. Daily Maverick en News24 het bevind sy het tussen 2015 en 2020 miljoene rand kontant aan luukse artikels bestee. Dit sluit in ‘n Mercedes-Benz Viano, handsakke, ʼn koffiewinkel in Sandton, en ʼn veelverdieping-herehuis in Pretoria toe sy Polokwane se burgemeester was. Simelane eis dat die joernaliste drie artikels, ʼn kort dokumentêr en inskrywings op sosiale media oor haar twyfelagtige rykdom verwyder.
# Swaar reën verlede maand het volgens berigte ‘n ernstige groenteskaarste op Tshwane se mark veroorsaak, veral groen blaargroente, tamaties en wortels. Beduidend minder wortels is gelewer, naamlik 15-duisend sakke teenoor die gemiddeld van 80-duisend. Fresh Plaza berig dat oorstroomde landerye ook onderontwikkelde oeste en gehalteprobleme veroorsaak het, soos klein patats en swakker gehalte beet. Die reën het ook die doeltreffende werking van onkruid-doder beperk, insetkoste verhoog en die rakleeftyd van baie produkte verlaag.
# Rugby: Die slot Jonny Gray sal sy eerste toets in byna twee jaar vir Skotland speel nadat hy in die opdrafspan ingesluit is vir môre se Sesnasies-tuiswedstryd teen Italië. Die 30-jarige het 2023 se Wêreldbekertoernooi weens ‘n kniebesering misgeloop. Edinburgh se haker, Dave Cherry, kan ook sy eerste toets sedert die Wêreldbeker speel. Stafford McDowell vervang die beseerde kaptein, Sione Tuipulotu, op binnesenter, en die rekord-driedrukker, Duhan van der Merwe, is weer fiks na ‘n enkelprobleem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-944-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-794-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….