Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Suid-Afrika se Onder-19-vrouespan het Australië met vyf paaltjies verslaan in Kuala Lumpur, Maleisië, om die eerste keer ooit deur te dring na die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Ashleigh van Wyk het vier paaltjies laat kantel en die Proteas het Australië tot 105 vir agt beperk. Jemma Botha het daarna die hoogste telling van 37 lopies van 24 balle aangeteken en Suid-Afrika het die teiken gehaal met elf balle oor. Suid-Afrika behou hul onoorwonne status en sal Sondag in die eindstryd teen Indië speel, wat Engeland in die ander halfeindstryd verslaan het.
Op die Wanderers het Joburg Super Kings sy hoop op ‘n plek in die SA20 se uitspeelrondes lewend gehou met ʼn oorwinning met sewe paaltjies oor Paarl Royals, wat boaan die punteleer is. Donovan Ferreira en Lutho Sipamla het elk drie paaltjies platgetrek en Royals is tot 150 vir nege beperk. Kaptein Faf du Plessis het daarna 87 van 55 balle behaal en Super Kings het die teiken bereik met sewe paaltjies staande. Du Plessis sê hy het sy spel-plan goed uitgevoer, veral in die kragspel:
# Rugby-nuus: Sam Prendergast begin op losskakel wanneer Ierland môre die verdediging van sy Sesnasies-kroon in Dublin teen Engeland afskop. Die 21-jarige sal sy buiging maak ten koste van Jack Crowley, wat bank toe skuif. Prendergast sal die ervare Jamison Gibson-Park se skakelmaat wees agter die pak met kaptein Caelan Doris op agsteman. Die waarnemende afrigter, Simon Easterby, het Rayn Baird ook op slot teruggebring en Garry Ringrose bo Robbie Henshaw gekies op buitesenter.
Nog rugbynuus: Die Wallabies se gewese hoofafrigter, Michael Cheika, gaan Leicester Tigers die einde van die seisoen verlaat. Hy het verlede jaar by die Engelse Premierklub aangesluit, maar besluit om nie sy kontrak te verlang nie. Cheika is in 2019 by die Wallabies weg en het twee keer vir Argentinië afgerig voor hy na die Tigers is. Uitvoerende hoof Andrea Pinchen sê daar word tans gesoek na ‘n geskikte plaasvervanger. Gerugte doen die ronde die gewese stut van Leicester en hoofafrigter van Munster, Graham Rowntree, is dalk die opvolger.
# Ons sluit af met sokker: Manchester United het FCSB in Roemenië twee-nul verslaan om deur te dring na die Europa-liga se laaste 16. Diogo Dalot en Kobbie Mainoo se doele het United se derde plek in die groepstadium verseker. Tottenham Hotspur is deur beserings getref, maar het Elfsborg nogtans drie-nul verslaan terwyl Rangers twee-een met Union Saint-Gilloise afgereken het om deur te dring na die ronde van 16. United se hoofafrgter, Ruben Amorim, sê die oorwinning is belangrik omdat hulle ʼn uitspeelstryd oor twee rondes in Februarie vryspring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….