Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase vier-beurtkrag is die naweek ‘n groot moontlikheid
# Minister Simelane dreig met regstappe teen joernaliste wat oor haar geldsake berig
# En krieket: Suid-Afrika se Onder-19’s dring deur na die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue
# Eskom het ‘n waarskuwing uitgereik oor ‘n groot kans op beurtkrag tot met fase vier die naweek. Dit volg op meer as tien maande van ononderbroke kragvoorsiening.
ActionSA het intussen sy kommer uitgespreek oor die besluit van die energiereguleerder Nersa om Eskom se sesde meerjarige prysbepalingsaansoek vir die volgende drie boekjare goed te keur. Die goedgekeurde tariefverhogings is 12,74-persent vir 2025/’26, 5,36-persent vir 2026/’27 en 6,19 persent vir 2027/’28. Alan Beesley van Action SA sê al is die styging laer as wat wou hê, is dit steeds hoër as die inflasiekoers, en sal dit vernietigend wees vir sukkelende huishoudings en ondernemings:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, dreig met regstappe teen joernaliste wat oor haar geldsake berig en voer aan dis laster en skending van haar privaatheid. Daily Maverick en News24 het bevind sy het tussen 2015 en 2020 miljoene rand kontant aan luukse artikels bestee. Dit sluit in ‘n Mercedes-Benz Viano, handsakke, ʼn koffiewinkel in Sandton, en ʼn veelverdieping-herehuis in Pretoria toe sy Polokwane se burgemeester was. Simelane eis dat die joernaliste drie artikels, ʼn kort dokumentêr en inskrywings op sosiale media oor haar twyfelagtige rykdom verwyder.
# Die Grensbestuursowerheid het tydens die 2024/’25-feestyd die wettige beweging van meer as vyf-miljoen reisigers op Suid-Afrika se 71 grensposte hanteer. Dis 51-duisend-680 reisigers meer as die vorige feestyd. Die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng het die meeste hanteer, naamlik meer as ‘n miljoen reisigers. Die owerheid se kommissaris, Michael Masiapato, sê ongeveer negeduisend-490 vliegtuie het op die land se internasionale lughawens geland en opgestyg:
# Krieket: Suid-Afrika se Onder-19-vrouespan het Australië met vyf paaltjies verslaan in Kuala Lumpur, Maleisië, om die eerste keer ooit deur te dring na die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Ashleigh van Wyk het vier paaltjies laat kantel en die Proteas het Australië tot 105 vir agt beperk. Jemma Botha het daarna die hoogste telling van 37 van 24 balle aangeteken en Suid-Afrika het die teiken gehaal met elf balle oor. Suid-Afrika behou hul onoorwonne status en sal Sondag in die eindstryd teen Indië speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-117-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-796-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewese uitvoerende hoof van die Nasionale Kunstefees, Tony Lankester, is die nuwe uitvoerende hoof van die Edinburgh-fees in Skotland se Fringe Society. Hy het 12 jaar lank die kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap gereël. Lankester het in dié tyd die fees, en daarmee ook sy internasionale voetspoor, uitgebrei deur verskeie produksies na randfeeste in Australië, Brittanje, Amerika en lande regoor Europa te neem. Die voorsitter van die vereniging, Benny Higgins, sê Lankester se leierskap is belangrik om voor hul 80ste bestaansjaar volgende jaar te verseker dat die fees volhoubaar is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….