Nuus 07:00
BULLETIN 31 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Elektrisiteit en Energie verwelkom die goedkeuring van die elektrisiteitstariefverhogings
# Cosatu verwelkom die rentekoersverlaging, maar vra vir verdere optrede
# En Israel laat 110 Palestynse gevangenes vry
# Die ministerie van Elektrisiteit en Energie verwelkom die energie-reguleerder Nersa se goedkeuring van kragtarief-verhogings vir die volgende drie jaar. Dit begin op 1 April. Die verhogings is 12,74-persent vir 2025/’26, 5,36-persent vir 2026/27 en 6,19-persent vir 2027/’28. Eskom wou vanjaar 36-persent hê. Minister Kgosientsho Ramokgopa het vertroue uitgespreek in Nersa se besluit wat Eskom se finansiële volhoubaarheid balanseer met huishoudings en sake-ondernemings se uitdagings. Sy woordvoerder Tsakane Khambane sê maatreëls sal ingestel word om weerlose verbruikers teen stygende koste te beskerm.
Die DA beplan intussen om regstappe in te stel teen die energiereguleerder Nersa se goedkeuring van die Eskom-elektrisiteitstariefverhogings. Die party voer aan die stygings is onregverdig en sal sukkelende huishoudings en ondernemings verder belas. Die DA-lid, Kevin Mileham sê verbruikers behoort nie te betaal vir Eskom se finansiële wanbestuur en korrupsie nie:
# Cosatu het die verlaging van 25 basispunte in die terugkoopkoers verwelkom, wat die prima-uitleenkoers tot 11-persent laat daal. Die vakbondfederasie sê dit bring verligting vir werkers wat stygende koste trotseer, maar vra die Reserwebank om meer te doen. Woordvoerder Zanele Sabela vra ‘n stewiger verlaging van tot 200 basispunte vanjaar om ekonomiese groei aan te help. Sy eis ook regeringsteun vir Eskom, Transnet en Metrorail, sowel as brandstofprys-hervormings en geen BTW op meer noodsaaklike voedselitems nie.
# Die Vryheidsfront Plus sê die inhegtenisneming en aanklagte teen Duduzile Zuma-Sambudla, oudpresident Jacob Zuma se dogter, stuur die regte boodskap oor aanhitsing tot geweld in Suid-Afrika. Sy het Donderdag in die Durbanse landdroshof verskyn op aanklagte van terrorisme en aanhitsing wat verband hou met die dodelike geweld in Gauteng en KwaZulu-Natal in Julie 2021. Zuma-Sambudla het op alle aanklagte onskuldig gepleit. Die VF Plus verwag dat die Nasionale Vervolgingsgesag die vervolging behoorlik hanteer en haar geen spesiale behandeling gee nie.
# Israel se Gevangenisdiens het Donderdag 110 Palestynse gevangenes vrygelaat as deel van die skietstilstandooreenkoms. Dit volg nadat agt gyselaars, drie Israelse en vyf Thaise burgers, uit Gaza vrygelaat is. In die eerste fase wat tans aan die gang is, moet altesaam 33 Israelse gevangenes, wat in die 7 Oktober-aanval gevange geneem is, vrygelaat word. Israel sal na verwagting in ruil sowat twee-duisend Palestyne gevangenes vrylaat. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê bemiddelaars het nou seker gemaak gyselaars sal in die toekoms veilig vrygelaat word.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Daniël van Tonder loop met twee houe voor by die MyGolfLife Ope nadat hy in die aanvangsronde ‘n tien onder 62 by die Pecanwood Gholf- en Buiteklub in Noordwes behaal het. Die 33-jarige is twee houe voor Peter Karmis van Griekeland, en landgenote soos Luke Brown, Nikhil Rama en Jason Roets wat die tweede plek deel met agt onder baansyfer. Van Tonder, wat verlede week die SDC Ope gewen het, sê hy is tevrede met sy goeie spelpeil:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-579-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-794-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….