Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa keur ‘n elektrisiteitstarief-verhoging van 12,7-persent goed vir die volgende boekjaar
# Eskom teken ‘n wins van 17,8-miljard-rand aan
# En, krieket: Duisende kom kyk toe Virat Kohli sy eerste plaaslike wedstryd in 12 jaar speel
# Die Energiereguleerder, Nersa, het ‘n elektrisiteitstariefverhoging van 12,7-persent vir die 2025/’26-boekjaar goedgekeur, met ingang vanaf die eerste April. Munisipale kliënte sal vanaf 1 Julie meer betaal. Verdere stygings van 5,36-persent in 2026/’27 en 6,19-persent in 2027/’28 is ook goedgekeur. Nersa se voorsitter, Thembani Bukula, sê die reguleerder moes Eskom se finansiële volhoubaarheid opweeg teenoor die bekostigbaarheid vir verbruikers:
Eskom het intussen aangekondig sy halfjaarwins het teen September tienvoudig gestyg, vanaf 1,68-miljard-rand tot 17,8-miljard-rand. Dit is aangedryf deur hoër tariewe, verbeterde kontantvloei en skuldverligting van die regering. Inkomste het met byna 16-persent gestyg tot 183,7-miljard-rand en die netto finansieringskoste het tien-persent gedaal tot 17,75-miljard-rand. Eskom het geen kragonderbrekings hierdie boekjaar aangeteken nie en skryf dit toe aan sy opwekkingsplan vir verbeterde steenkoolaanlegte. Eskom sê indien dit volgehou word kan hy sy eerste volle-jaarwins sedert 2017 aanteken.
# Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners met skuld. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag, wat beteken handelsbanke se prima-uitkeerkoers verlaag tot 11-persent. Die bank sê die ekonomie het in die derde kwartaal ingekrimp, hoofsaaklik weens ‘n skerp daling in landbouproduksie. Die president van die bank, Lesetja Kganyago, verwag egter ‘n ommekeer in die vierde kwartaal, aangevuur deur verhoogde landbou-uitset, sterk huishoudelike besteding en onttrekkings van die tweepot-pensioenstelsel:
# Die familie van ‘n Thaise plaaswerker wat in Gaza aangehou is, het vandag van verligting gehuil toe hy bevry is in ‘n uitruiling van gyselaars en gevangenes tussen Israel en Hamas. Vyf Thais is saam met drie Israeli’s bevry as deel van ‘n skietstilstandooreenkoms wat daarop gemik is om die oorlog in Gaza te beëindig. Een-en-dertig Thaise burgers is ontvoer tydens Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023. Altesaam 23 is teen die einde van daardie jaar vrygelaat en twee is dood. Die meeste van die geraamde 30-duisend Thaise burgers in Israel werk in die landbousektor.
# Krieket: Duisende toeskouers het ʼn stadion in die Indiese hoofstad, Delhi, volgepak toe die voormalige kaptein, Virat Kohli, sy eerste plaaslike wedstryd in meer as 12 jaar speel. Die beheerliggaam het na die onlangse toetsreeksnederlaag van 3-1 teen Australië besluit gekontrakteerde spelers moet plaaslike krieket speel. Die 36-jarige Kohli se spel is die afgelope ruk nie op peil nie. Hy speel vir die gashere teen Railways in ʼn wedstryd om die Ranji-trofee. ’n Groot skare het ook vroeër die week opgedaag toe dit bekend word Kohli gaan voor die wedstryd saam met Delhi oefen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-879-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-783-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….