Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers word met 25 basispunte verlaag
# Die hoof van die Weermag verduidelik die DRK-ontplooiing te midde van Kagame se kritiek
# En, die langsdienende terdoodveroordeelde wil hê die Japannese regering moet hom miljoene betaal
# Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners met skuld. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag tot 7,5-persent. Dit beteken handelsbanke se prima-uitleenkoers verlaag tot 11-persent:
# Die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, Rudzani Maphwanya, herbevestig soldate van die SANW is op ‘n vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo, en weerspreek aansprake van die Rwandese president, Paul Kagame. Volgens hom is hulle mandaat om gewapende groepe te neutraliseer en bestendigheid te herstel. Maphwanya bevestig ook hulle sal die oorskot van die 13 gestorwe soldate na hul families repatrieer:
# Die dogter van oudpresident Jacob Zuma wat daarvan beskuldig word dat sy die onrus van Julie 2021 aangehits het, is deur die Durbanse Landdroshof in KwaZulu-Natal op waarskuwing vrygelaat. Duduzile Zuma-Sambudla staan tereg op aanklagte in verband met die aanhitsing van terrorisme en openbare geweld tydens die onrus, wat tot die dood van meer as 300 mense gelei het. Landdros Irfaan Khalil het die saak na die Hooggeregshof in Durban oorgeplaas en haar volgende verskyning is op 20 Maart:
# Limpopo se Gesondheidsdepartement maan inwoners om waaksaam te wees terwyl malaria-gevalle toeneem na onlangse reën. Die departement waarsku die nat toestande is ideaal vir die uitbroei van muskiete, wat ‘n skerp toename in malaria-gevalle kan veroorsaak. Die toestand word noukeurig dopgehou en betrokke gemeenskappe word ondersteun. Woordvoerder Neil Shikwambana vra mense met simptome soos koors en kouekoors om onmiddellik mediese hulp te kry:
# Krieket: Vroulike Afgaanse spelers het vandag ‘n liefdadigheidswedstryd in Melbourne, Australië, gespeel toe hulle die eerste keer byeen gekom het sedert hulle hulle land verlaat het. Honderde vroulike atlete het uit Afganistan gevlug nadat die hardvogtige Taliban beheer oorgeneem het in Augustus 2021, en vrouesport en -opvoeding vir alle praktiese doeleindes verbied het. Baie van die nasionale spanlede het as vlugtelinge in Australië gaan woon. Kaptain Nahida Sapan sê die vroue bou ‘n beweging vir verandering en belofte, en hoop die wedstryd sal deure open vir Afgaanse vroue.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-36-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-778-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreld se langsdienende terdoodveroordeelde gevangene eis meer as 24-miljoen-rand van die Japannese regering nadat hy onskuldig bevind is. Iwao Hakamada is verlede jaar onskuldig bevind aan die moord op vier mense in 1966 nadat die nou 88-jarige man langer as vier dekades in aanhouding was. ‘n Streekhof het tydens ‘n herverhoor in September beslis die polisie het met bewyse gepeuter en die oud-bokser het onmenslike ondervragings ondergaan en is gedwing om ‘n verklaring af te lê wat hy later teruggetrek het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….