Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met motorsport: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het die sperdatum om aansoek te doen om ‘n Formule Een Grand Prix in Suid-Afrika aan te bied, tot 18 Maart uitgestel. Die departement sê dis om rolspelers nog tyd te gee om goed gestruktureerde, omvattende voorstelle in te dien. Kyalami in Johannesburg bly die voorloper hangende opgraderings om aan die beheerliggaam F-I-A se standaarde te voldoen. Die departement se woordvoerder, Stacey-Lee Khojane, sê hulle is verbind tot ʼn deursigtige en mededingende proses:
Die F-I-A het intussen die gewese renjaer Johnny Herbert afgedank as Grand Prix-baanbeampte en sê dit bots met sy werk as media-ontleder. Die 60-jarige Brit het in die 1980’s en ’90s drie F1-wedrenne gewen, en in 1991 die Le Mans. Herbert het verlede jaar die woede ontlok van die viermalige F1-kampioen, Max Verstappen van Nederland, oor die opmerkings wat hy oor die Red Bull-jaer se gedrag op die baan gemaak het toe hy nog ‘n ontleder vir Sky News was.
# Vervolgens, krieket: MI Cape Town het die eerste keer hulle plek in die SA20 se uitspeelronde bespreek met ʼn bonuspunt-oorwinning met tien paaltjies oor die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, op Nuweland. Corbin Bosch het sy beste boulsyfer in die kompetisie behaal en vier paaltjies vir 19 lopies platgetrek om Sunrisers tot 107 te beperk. Ryan Rickelton en Rassie van der Dussen het daarna ʼn onoorwonne aanvangsvennootskap van 110 lopies behaal om MI Cape Town na ʼn oorwinning te lei. Bosch sê hul fokus bly op die taak wat voorlê:
# Ons maak ‘n draai by rugby: Wêreldrugby het bevestig die eindstryd van 2027 se Wêreldbekertoernooi vir mans sal op die Accor-stadion in Sydney, Australië, plaasvind. Die stadion met plek vir 82-duisend toeskouers sal ook die halfeindstryde, die uitspeelstryd om derde plek en twee kwarteindstryde aanbied. Sydney, Melbourne, Perth, Brisbane, Adelaide, Townsville en Newcastle sal ses weke lank gasheer speel vir die wêreld se 24 beste spanne. Rugby Australië se uitvoerende hoof, Phil Waugh, sê die land het ‘n ryke geskiedenis met die aanbieding van groot toernooie:
# En sluit af met tennis: Die Amerikaanse Ope brei sy hooftoernooi uit na 15-dae en begin vanjaar op ‘n Sondag vir die eerste keer in die Ope-era. Die Amerikaanse Tennisvereniging sê dit volg nadat die toernooi verlede jaar die derde agtereenvolgende jaar ‘n rekordbywoning gehad het. Hy sê die begin op ‘n Sondag sal ‘n bykomende 70-duisend toeskouers toegang gee. Wimbledon is nou die enigste oorblywende Grand Slam-toernooi met ‘n tradisionele begin op ‘n Maandag nadat die Australiese Ope verlede jaar verander het en die Franse Ope in 2006.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….