Nuus 11:00
BULLETIN 30 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Reuse-soektog is aan die gang nadat ‘n vliegtuig met 64 mense aan boord in Washington neerstort
# Die Parlement se voorsittende beamptes hoop op ‘n oplossing in die DRK
# En rugby: Sydney sal die eindstryd van 2027 se die Wêreldbeker-toernooi vir mans aanbied
# ‘n Reddingsoperasie is aan die gang in die Potomac-rivier in Washington nadat ‘n passasiersvliegtuig van American Airlines tydens ‘n vlug met ‘n Black Hawk-helikopter gebots en in die rivier neergestort het. Die vliegtuig het 60 passasiers en vier bemanningslede aan boord gehad, en daar was drie Amerikaanse soldate in die helikopter. Daar is mense dood, maar die aantal is nog onbekend. Die hoof van Washington se Brandweer- en Nooddienstedepartment, John Donnelly, sê die reddingspoging is ‘n hoogs-ingewikkelde operasie:
# Die voorsittende beamptes van die Parlement, gelei deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, vertrou ‘n dringende en volhoubare oplossing sal gevind word vir die gevegte in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Dertien soldate van die Nasionale Weermag het gesneuwel in gevegte met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle in die gebied. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die voorsittende beamptes het president Cyril Ramaphosa geloof vir sy leierskap met die aanvoer van dialoog met sy ampsgenote van die DRK en Rwanda:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê ‘n raadgewende komitee van nie meer as tien lede nie, sal aangestel word om raad te gee oor die bereiking van die doelwitte van die Wet op die Behoud en Ontwikkeling van Landbougrond. Die wet gee ‘n landwye beleids- en regulasieraamwerk vir die behoud en ontwikkeling van landbougrond. Daar word geraam dat minder as 13-persent van Suid-Afrika se 122-miljoen-hektaar grond, landbougrond met hoë potensiaal is. Steenhuisen sê die verbetering van voedselsekerheid is een van die departement se sewe hoofdoelwitte.
# Die finteg-bedryf in Suid-Afrika het die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Betalingsverskaffers van stapel gestuur om ‘n meer inklusiewe digitale betalings-ekostelsel aan te dryf. Die vereniging, wat deur agt groot nie-bankbetalingspelers gestig is, beoog om billike toegang tot betalingsinfrastruktuur uit te brei, die onkoste van transaksies te verlaag en onmiddellike betalings te verseker. Die vereniging en reguleerders sal saamwerk om Suid-Afrika se betalingstelsel te moderniseer, wat finansiële insluiting vir gemeenskappe sonder toegang tot banke bevorder terwyl vernuwing in digitale transaksies aangemoedig word.
# Rugby: Wêreldrugby het bevestig die eindstryd van 2027 se Wêreldbekertoernooi vir mans sal op die Accor-stadion in Sydney, Australië, plaasvind. Die stadion met plek vir 82-duisend toeskouers sal ook die halfeindstryde, die uitspeelstryd om derde plek en twee kwarteindstryde aanbied. Sydney, Melbourne, Perth, Brisbane, Adelaide, Townsville en Newcastle sal ses weke lank gasheer speel vir die wêreld se 24 beste spanne. Rugby Australië se uitvoerende hoof, Phil Waugh, sê die land het ‘n ryke geskiedenis met die aanbieding van groot toernooie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-67-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-765-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-43-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….