Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die DA vra die opskorting van Gewapende Magtedagviering na militêre verliese
# Tennis: Die beseerde Novak Djokovic sal die begin van Serwië se Davisbeker-veldtog misloop
# En, Monte Cristo en Emilia Perez kry die meeste benoemings vir Frankryk se weergawe van die Oscars
# Die DA se woordvoerder oor Verdediging, Chris Hattingh, eis die onmiddellike opskorting van Gewapende Magtedag op 21 Februarie en Lugmagdag op 8 Oktober na die dood van 13 Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo. Hattingh beskou die geskeduleerde militêre feestelikhede as oneerbiedig, en eis nasionale rou en aanspreeklikheid in plaas van vieringe terwyl soldate hulle in ‘n krisis bevind:
# Eskom gaan strenger regulasies instel teen sonpaneelstelsels wat aan die kragnetwerk gekoppel is. Die kragvoorsiener waasku alle ongeregistreerde verbindings is onwettig al voer hulle nie elektrisiteit terug na die netwerk nie. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Eskom wil pogings opskerp om al die sonkragstelsels wat aan die netwerk gekoppel is, te reguleer. Sy het aan SABC News gesê minder as twee-duisend kliënte is tans geregistreer:
# Mali, Niger en Burkina Faso, wat deur juntas regeer word, het vandag na meer as ‘n jaar se diplomatieke spanning amptelik die belangrikste politieke en handelsgroep in Wes-Afrika verlaat. Die onttrekking het die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state geskud, want baie beskou dit as die belangrikste streeksgroep op die vasteland en vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Die breuk is veroorsaak deur die staatsgreep in Niger in Julie 2023, en militêre regeerders in Burkina en Mali het ook sedert 2020 die mag oorgeneem.
# Tennis: Serwië begin sy Davisbeker-veldtog sonder die wêreld-nommer-ses, Novak Djokovic. Die land se tennisfederasie sê die 37-jarige het ‘n agterknie-sening beseer wat hom verplig het om te onttrek aan sy halfeindstryd teen die uiteindelike naaswenner, Alexander Zverev van Duitsland, in die Australiese Ope. Djokovic was lid van die span wat die Davisbeker in 2010 verower het. Serwië speel van Vrydag in Kopenhagen teen Denemarke in die eerste kwalifiserende ronde van die Davisbekerkompetisie. Kaptein Victor Troicki sê Djokovic se afwesigheid sal die span beslis verswak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-893-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Die plaaslike treffer “Monte Cristo” loop voor in die benoemings vir Frankryk se weergawe van die Oscars, die Cesars, gevolg deur “Emilia Perez”. “Monte Cristo”, ‘n verwerking van Alexandre Dumas se epiese roman, “The Count of Monte Cristo” was verlede jaar die tweede gewildste prent in Franse fliekteaters. Dit is in 14 kategorieë benoem. “Emilia Perez” van die Franse regisseur Jacques Audiard, wat met die meeste Oscar-benoemings spog, is in 12 kategorieë benoem vir die Cesars, insluitend vir beste rolprent en beste regisseur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….