Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Tracker het ‘n veilige-busrit-loodsprogram by verskeie skole in Gauteng ingestel. Dit laat ouers toe om hulle kinders se skoolbusse regstreeks te volg. Agt skole in die noordelike voorstede is deel van die aanvanklike fase en die plan is om landwyd uit te brei. Busse word met nasporingstelsels toegerus wat ouers in staat stel om die roetes te monitor en indien nodig weer op te roep en na te gaan. Charlette Roetz van Tracker sê die projek sal ouers gerusstel oor veilige vervoer vir hulle kinders.
Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het intussen 110 fietse oorhandig aan leerders van die Lesedi Secondary en Boshkop Primary School in Pretoria. Dit is deel van die departement se skoolfietsprojek om stiptelikheid, fiksheid en omgewings-volhoubaarheid te verbeter. Diale-Tlabela sê die fietse is noodsaaklik want sommige leerders moet baie ver stap om by die skool te kom:
# Twee studente van die Universiteit van Stellenbosch, Yasmin de Raay en Chris Erasmus, is deur na die internasionale ronde van die 2025 Blue Sky Jong Navorsers en Vernuwingskompetisie. Die wêreldwye kompetisie is gemik op jongmense onder 30 jaar wat navorsing doen oor houtprodukte, pulp of papier as roumateriaal, die verbetering van prosesse, en ander vernuwing in die houtbedryf se waardeketting. Erasmus en De Raay, wat hulle meestersgrade in Ingenieurswese doen, sal nou beoordeel word teen ander navorsers van Amerika, Kanada, Europa en Australië.
# Die Universiteit van die Witwatersrand het edu-roam by 36 openbare biblioteke aangebring wat gratis en veilige toegang tot die internet bied aan studente en personeel oral in Johannesburg. Die instelling het met TENET en die metro saamgespan om akademiese toegang buite sy kampusse te bied. Stanley Mpofu van Wits sê dié uitbreiding bou voort op die sukses van die instelling se samewerking in 2023 met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika wat edu-roam by die groot lughawens in die land ingestel het.
# En ten slotte: Dis vandag die Chinese Nuwejaarsdag wat die begin van die jaar volgens die tradisionele Chinese kalender vier. Volgens Chinese sterretekens is dit die Jaar van die Slang, wat ‘n simbool is van wysheid, elegansie en intuïsie. Die feestelikhede duur 15 dae en eindig met die Lanternfees op 12 Februarie. In die Chinese kultuur word rooi as ʼn gelukkige kleur beskou. Daarom versier mense dikwels hul huise en openbare ruimtes met baie rooi lanterns en ander feestelike versierings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….