Nuus 11:00
BULLETIN 29 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi is bekommerd oor die bevriesing van Amerikaanse befondsing vir MIV/Vigs-programme
# Twee vas nadat 51 Putco-busse in Mpumalanga aan die brand gesteek is
# En gholf: Scottie Scheffler opgewonde oor sy terugkeer na die PGA
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê hy sal binnekort met die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vergader oor Amerika se bevriesing van fondse vir die president se noodplan vir Vigs-verligting, ook bekend as PEPFAR. Die onderbreking duur terwyl vasgestel word of die befondsing in ooreenstemming is met president Donald Trump se buitelandse beleid. PEPFAR dra 17-persent by tot Suid-Afrika se begroting van 44,4-miljard-rand om MIV/Vigs te hanteer. Motsoaledi sê sy departement het begin om inligting in te samel oor die instellings wat geraak sal word:
Die DA doen intussen ‘n beroep op die Amerikaanse regering om die befondsing van PEPFAR weer in te stel. Dit verskaf lewensreddende MIV-behandeling aan 20,6-miljoen mense wêreldwyd, insluitend 556-duisend kinders. Die DA sê die Amerikaanse regering moet besef dat elke dollar wat aan globale gesondheidsprogramme bestee word, internasionale veiligheid regstreeks versterk en Amerika se globale invloed ‘n hupstoot gee.
# Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met 51 Putco-busse wat Maandagaand in die Nkangala-distrik in Mpumalanga aan die brand gesteek is. ‘n Onbekende groep mense het twee veiligheidswagte by die Moloto-depot aangeval en busse aan die brand gesteek. ʼn Veiligheidswag is in die been geskiet en ʼn ander een is met ʼn stoel oor die kop geslaan. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê nog inhegtenisnemings word verwag:
# Minstens 12 mense is in Prayagraj, Indië, dood tydens ʼn stormloop tydens die wêreld se grootste godsdienstige byeenkoms, die Kumbh Mela-fees. Dit het gebeur toe miljoene mense hulleself in die sameloop van die Ganges- en die Yamuna-rivier wou doop. Gelowiges glo hulle sondes word skoongewas as hulle in die rivier baai. Amptenare sê byna 200-miljoen mense het in die rivier gebaai sedert die fees op 13 Januarie begin het. Opposisieleiers kritiseer die regering en sê wanbestuur het tot die tragedie gelei.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, sê hy is opgewonde om weer aan ‘n toernooi deel te neem, want dis frustrerend om nie te kan speel nie. Die Amerikaner het sy regterhand seergemaak toe hy gehelp het om Kersete voor te berei, en moes geopereer word. Hy en Rory McIlroy maak hierdie week hulle eerste verskyning in ʼn PGA-toernooi vanjaar as deel van ʼn sterbelaaide groep in die AT&T Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië. Scheffler sê hy geniet die Pebble Beach-baan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-72-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-758-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….