Nuus 07:00
BULLETIN 29 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Suid-Afrikaanse soldate betaal die prys vir Denel se wanbestuur
# Stats SA hersien die verbruikersinflasiemandjie
# En Iran waarsku teen ’n aanval op sy kernaanlegte
# Die DA sê soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag betaal die prys vir die wanbestuur by Denel. Die Spesiale Ondersoekeenheid het onthul Denel het in 2007 8,3-miljard-rand ontvang om 264 gepantserde Ratel-personeelvoertuie te lewer. Tot op hede het nie een hiervan die soldate bereik nie. Die DA sê Denel het ook misluk om die missiele te sertifiseer wat nodig is om Gripen-vegvliegtuie toe te rus, en wat die vliegtuie waardeloos maak vir gevegte in die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy sê hierdie skaamtelose plundery kom neer op verraad.
ActionSA kritiseer intussen die regering omdat hy die afgelope vyf jaar sowat nege-miljard-rand se reddingsboeie met belastingbetalersgeld op Denel vermors het. Dit volg nadat die Spesiale Ondersoekeenheid op uitermatige korrupsie en wanbestuur afgekom het by die staatsbeheerde lugvaart- en militêre tegnologiemaatskappy. ActionSA se woordvoerder, Alan Beesley, sê Denel was eens ‘n sleutelspeler in nasionale veiligheid maar verkeer nou op die randjie van ineenstorting en bedreig die land se vermoë om homself te verdedig:
# Die Vryheidsfront Plus het ‘n ondersoek begin na die Swellendam-raad se speaker en partylid, Juan van Schalkwyk. Dit volg ná ʼn ANC-mosie van wantroue om die DA-burgemeester, Francois du Rand, te verwyder. Die mosie is Maandag aanvaar en beskuldig Du Rand dat hy nie optree teen bewerings van wangedrag nie. Die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, sê Van Schalkwyk se optrede druis in teen die party se besluit dat hy nie die ANC sal ondersteun of sal saamstem met ʼn mosie van hierdie aard nie.
# Statistieke SA het die inflasiemandjie van verbruikers hersien en 71 produkte bygevoeg, 53 verwyder en 29 rondgeskuif. Nuwe toevoegings sluit in basmati-rys, stromingsdienste, gassilinders en skooldrag, terwyl items soos gemaalde koffie en satelliet-TV-dekodeerders weggelaat is. Die hoofdirekteur vir Prysstatistiek, Patrick Kelly, sê aangepaste geweegde produkte onderstreep verhoogde besteding aan voedsel en telekommunikasie. Hy sê die bygewerkte mandjie het nou 391 items en sal verslagdoening oor inflasie vanaf Februarie beïnvloed:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, waarsku hulle sal met alle mag optree teen diegene wat hul kernfasiliteite aanval. Israel het gedreig om met Amerika se ondersteuning Iran se kernwapenprogram aan te val. President Donald Trump van Amerika het tydens sy eerste termyn ʼn beleid van maksimum druk op Iran gevolg en onttrek aan ʼn 2015-ooreenkoms wat beperkings op sy kernprogram plaas in ruil vir die opheffing van sommige sanksies. Araghchi het aan Sky News gesê sy kernprogram is vir burgerlike en vreedsame doeleindes:
# Rugby: Die tweeling, Tom en Ben Curry, speel Saterdag vir die eerste keer saam vir Engeland in hul aanvangswedstryd in die Sesnasies teen Ierland in Dublin. Die 26-jarige broers speel albei vir Sale Sharks en sal die flanke weerskante van nommer agt, Ben Earl, wees. Tom Curry dra die nommer ses-trui. Cadan Murley maak sy buiging op linkervleuel. Alex Mitchell het van ‘n besering herstel en begin op skrumskakel, met Marcus Smith op losskakel. Maro Itoje sal Engeland die eerste keer aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-775-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-765-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….