Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Giwusa sê Suid-Afrikaanse soldate is op die altaar geoffer in DRK
# Trump se bevriesing van buitelandse hulp bedreig Suid-Afrika se MIV/VIGS-programme
# En rugby: Die Bulle se Bok-flank het ‘n lang, onsekere pad voor na ‘n ernstige kniebesering
# Giwusa sê dit is absoluut duidelik die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se avontuur in die Demokratiese Republiek die Kongo is imperialisties in sy doel, karakter en doelwitte. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê daar is natuurlike hulpbronne ter waarde van meer as 445-duisend-miljard-rand in die DRK. Hy sê dit is die land se minerale rykdom wat imperialistiese aasvoëls van reg oor die wêreld lok:
Kenia se president en voorsitter van die Oos-Afrika-gemeenskap, William Ruto, het intussen ‘n buitengewone beraad belê om die toenemende geweld in die ooste van die DRK te bespreek. Ruto het beklemtoon staatsmanskap is belangriker as militêre oplossings en dialoog aangemoedig om die krisis op te los. Hy sê die noodvergadering wat vir môre beplan word, sluit in die president van Rwanda, Paul Kagame, en die president van die Kongo, Félix Tshisekedi:
# ‘n Voormalige burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, het in die Protea-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog wat verband hou met ‘n vermeende Ponzi-skema deur sy begrafnisonderneming, Ithemba Lama Afrika. Die staat voer aan inwoners van Soweto is bedrieg. Gwamanda hou vol hy is onskuldig. Hy ontken die aanklagte en sê dit is polities gemotiveer om hom as ‘n leier te diskrediteer:
# Die uitvoerende bevel van die Amerikaanse president, Donald Trump, wat alle buitelandse ontwikkelingshulp opskort, kan Suid-Afrika se gesondheidsprogramme ernstig raak, veral dié wat MIV/VIGS bekamp. Wits Universiteit bevestig sommige programme wat deur U-S-AID befonds word, is gestaak, insluitend dié vir die Wits Reproductive Health and HIV Institute. Die stilstand met befondsing kan dienste ontwrig en MIV-behandeling vertraag. Kenners waarsku die bevriesing van befondsing kan deurslaggewende vordering ten opsigte van die VN se MIV/VIGS-teikens in gevaar stel.
# Rugby: Die Springbok-flank Elrigh Louw erken ‘n lang, onseker pad lê vir hom nadat hy ʼn ernstige kniebesering opgedoen het terwyl hy die afgelope naweek vir die Bulle teen die Leeus gespeel het in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die medekaptein van die Pretoriase span is na die wedstryd op Ellispark reguit hospitaal toe geneem en kort daarna geopereer. Louw beloof om terug te keer. Die Bulle se ander kaptein, Ruan Nortjé, en die losskakel Johan Goosen het ook knieprobleme.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-866-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….