Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog vier Suid-Afrikaanse soldate sterf nadat M23-rebelle Goma in die DRK aanval
# Klimaatsaktiviste ontwrig ‘n toneelstuk in Londen
# En rugby: Die Bulle se Bok-flank het ‘n lang, onsekere pad voor na ‘n ernstige kniebesering
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het berig nog vier Suid-Afrikaanse soldate is dood in die Demokratiese Republiek die Kongo tydens intense geveg met M23-rebelle. Dit bring die dodetal op 13 te staan. Die soldate is vasgekeer in Goma en Sake, en het nie toegang tot mediese hulp of voorrade nie. Die Weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê ‘n video waarin gesien kan word hoe soldate ‘n wit vlag hys, is bevestig as deel van ‘n mislukte wapenstilstand en beteken nie die soldate het oorgegee nie.
Save South Africa het intussen ‘n beroep gedoen op die regering en die minister van Verdediging, Angie Motshekga, om die Suid-Afrikaanse soldate huis toe te bring voor almal sterf. Die woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die regering moet die dinamika in die DRK, veral in die Suid-Afrikaanse kamp, akkuraat ontleed en rapporteer:
# Cosatu moedig alle werkers wat in myne tuberkulose of enige ander longsiekte opgedoen het om uit te vind of hulle geregtig is om by die Mediese Buro van Beroepsiektes aansoek te doen vir vergoeding. Dit is ook van toepassing op voormalige mynwerkers wat TB of silikose gekry het van werk in goudmyne tussen 12 Maart 1965 en 10 Desember 2019. Zanele Sabela van Cosatu sê as die mynwerkers oorlede is, sal hulle afhanklikes in aanmerking kom vir vergoeding:
# Twee klimaatsaktiviste het ‘n opvoering van William Shakespeare se “The Tempest” in Londen ontwrig waarin die Hollywood-aktrise Sigourney Weaver speel. Hulle het op die verhoog van die Theatre Royal geklim, ‘n konfetti-kanon afgevuur en ‘n plakkaat opgehou met die woorde “Over 1.5 Degrees is a Global Shipwreck“. Dit verwys na 2024 wat die eerste volle jaar was waarin wêreldtemperature oor 1,5-grade Celsius gestyg het, wat wetenskaplikes laat waarsku bestendigheid word bedreig. Sommiges in die gehoor het die aktiviste van Just Stop Oil uitgejou.
# Rugby: Die Springbok-flank Elrigh Louw erken ‘n lang, onseker pad lê vir hom nadat hy ‘n ernstige kniebesering opgedoen het terwyl hy die afgelope naweek vir die Bulle teen die Leeus gespeel het in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die medekaptein van die Pretoriase span is na die wedstryd op Ellispark reguit hospitaal toe geneem en kort daarna geopereer. Louw beloof om terug te keer. Die Bulle se ander kaptein, Ruan Nortjé, en die losskakel Johan Goosen het ook knieprobleme.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-153-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….