Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met sokker: Bafana Bafana is in Groep B geloot saam met die rekord sewemalige kampioen, Egipte, vir vanjaar se Afrikabekertoernooi in Marokko. Die verdedigende kampioen, Ivoorkus, kom in Groep F te staan teen die vyfmalige wenner, Kameroen, en Gaboen en Mosambiek. Die gasheer speel op 21 Desember teen die Comoros in die aanvangswedstryd van die toernooi, waaraan 24 spanne deelneem. Bafana Bafana se hulpafrigter, Helman Mkhalele, sê hulle het in ‘n moeilike groep beland:
# Vervolgens, krieket: Die voorloper in die SA20, Paarl Royals, het Durban’s Super Giants met ses paaltjies verslaan op Bolandpark in die Paarl in hul vyfde agtereenvolgende sege. Dis die eerste keer dat ‘n span alle tuiswedstryde in die kompetisie wen. Super Giants het 143 vir sewe aangeteken, waarna Rubin Hermann en Lhuan-dré Pretorius se vennootskap van 91 om die tweede paaltjie die oorwinning beklink het vir die tuisspan, en Super Giants se hoop op die uitspeelrondes verpletter het. Super Giants se kaptein, Keshav Maharaj, sê hy is nogtans trots op sy span:
Die Internasionale Krieketraad het die Indiese snelbouler Jasprit Bumrah intussen aangewys as die mans-toetsspeler vir 2024. Die 31-jarige het gevrees sy loopbaan is verby na ‘n langdurige rugbesering, maar het laat in 2023 na die langste formaat teruggekeer en was verlede jaar die voorste paaltjienemer. Hy het 71 slagoffers geëis teen ‘n gemiddeld van 14.92. Bumrah sê toetskrieket was nog altyd sy gunstelingformaat. Die veelsydige Azmatullah Omarzai van Afganistan is aangewys as die IKR se eendag-speler vir 2024.
# Nou tyd vir rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het vyf spelers by sy groep gevoeg wat deur beserings geteister word voor Saterdag se eerste Sesnasieswedstryd teen Italië op Murrayfield. Dit sluit die Australies-gebore losvoorspeler Alexander Masibaka in, wat in Frankryk speel. Hy vervang vir Josh Bayliss, wat ‘n liesbesering opgedoen het. Die 23-jarige gewese speler van Western Force het vir Skotland gekwalifiseer deur sy ma, wat in die land gebore is. Die slotte Cameron Henderson en Ewan Johnson is ook ontbied, asook Glasgow se nuweling, Euan Ferrie, wat slot of losvoorspeler kan speel, en Glasgow se heelagter, Ollie Smith.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcazaz van Spanje, is die topgekeurde in die Rotterdamse Ope in Nederland nadat die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, onttrek het. Die Italianer, wat boaan die wêreldranglys is, het besluit om ‘n ruskans te neem nadat hy die naweek sy Australiese Ope-titel behou het. Die wêreld-nommer-elf, Grigor Dimitrov van Bulgarye, gaan ook nie deelneem nie. Alcaraz kom te staan teen ‘n klomp sterk spelers, insluitend Holger Rune van Denemarke, die Switserse veteraan Stan Wawrinka, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, en die plaaslike gunsteling Tallon Griekspoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….