Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika eis dat Rwanda sy verdedigingsmag se steun aan die M23-rebelle in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo moet staak. Die teenwoordigheid van die rebellegroep in Oos-DRK, bemoeilik die bilaterale betrekkinge tussen Pretoria en Kigali.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei ook met Suid-Afrika se teenwoordigheid in die DRK. Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald het ‘n dringende beroep gedoen dat Suid-Afrikaanse soldate onttrek moet word. Daar is talle vrae oor die sogenaamde swak voorbereide soldate in die buiteland.
Tweedens skryf die blad die MK-party het in die hof daarop aangedring dat die SABC ophou om die term “regering van nasionale eenheid” te gebruik omdat dit van die uitsaaier ‘n spreekbuis van die ANC maak.
En laastens word berig die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid gaan ‘n klagte van Vrystaat Landbou ondersoek oor swak selfoonseine teen die Lesotho-grens wat boere weerloos laat.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die sakeman en belegger Willah Mudolo, wat die selfverklaarde profeet Sheppard Bushiri se megakerkprojek ondersteun het, het die aanklaer in die saak, Desire Rosenblatt, van meineed beskuldig.
En berig die leier van die Nasionale Kleurlingkongres, Fadiel Adams het ‘n klag van regsverydeling teen die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, ingedien.
# Sowetan:
Berig die familie van ‘n Suid-Afrikaanse soldaat wat in die DRK dood is, Louis Moagi is bang om die nuus aan sy kind oor te dra nadat hulle Kersfees die versekering gegee het dat hy veilig sal terugkeer huis toe. Die koerant skryf die dood van nege SANW-lede in die DRK het ‘n debat ontketen oor die begroting en gereedheid om in die Kongo te ontplooi.
# En The Citizen:
Skryf hoewel die regering van nasionale eenheid uitmekaar gedryf is deur die Onteieningswet, is kenners van mening die DA sal nie onttrek en ‘n geleentheid bied vir die EFF of MK-party om die leemte te vul nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die pa wat na bewering sy kind in Durbanville met ‘n mes gesteek het, het by die polisie gepleit om hom te skiet toe sy eie selfdoodpoging nie uitwerk nie. Die pa en sy minderjarige seun het beide die voorval oorleef en die pa is onder polisiebewaking in die hospitaal.
En tweedens skryf die koerant die ANC sê daar is geen sprake om mense se huise te vat in terme van die nuwe Onteieningswet nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig sake-eienaars in Cottrellstraat in Korsten is baie ongelukkig want die straat is deur taxi’s as staanplek oorgeneem. Dit verhoed enige toegang deur kliënte en is negatief vir hulle ondernemings.
En skryf tweedens die inwoners van Gqeberha is gewaarsku nadat drie van die land se gevaarlikste slange, die groenmamba, boomslang en pofadder binne 24-uur in die stad aangetref is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf werklose dokters ruk op na die kantoor van die Departement van Gesondheid in die Natalia-gebou in Pietermaritsburg.
En berig rioleringsprobleme veroorsaak ‘n slegte reuk in Woodlands.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Landbou, Water en Grondhervorming, Calle Schlettwein sê sy departement het nie genoeg geld nie en moet dringend projekte hersien. Slegs een-persent word aan water bestee.
En tweedens skryf die koerant ‘n reusestorm het die afgelope naweek verwoesting in Okahandja gesaai.