Nuus 06:00
BULLETIN 28 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar was ‘n positiewe ingesteldheid jeens Suid-Afrika by die Wêreld Ekonomiese Forum
# TimesLive vra minister Macpherson om verskoning
# En die Nasionale Kleurlingkongres kla Helen Zille aan van regsverydeling
# President Cyril Ramaphosa sê daar was ‘n baie beter ingesteldheid teenoor Suid-Afrika en sy ekonomiese vooruitsigte by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Die president het verlede week ‘n afvaardiging na die forum gelei, waar die stand van die wêreldekonomie bespreek is. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa sakeleiers het die vorming van die regering van nasionale eenheid verwelkom. Hy sê hulle sien dit as ‘n teken van bestendigheid en ‘n gemeenskaplike verbintenis tussen partye tot inklusiewe groei, indiensneming en ‘n bekwame staat.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, versoek joernaliste om die inligting wat hulle publiseer noukeurig te ondersoek, veral gegewe die stryd teen korrupsie in sy departement. Dit volg nadat TimesLive ‘n verskoning uitgereik het en ‘n meningsberig deur Onkgopotse JJ Tabane teruggetrek het, waarin die minister valslik beskuldig word dat hy ‘n joernalis omgekoop het om negatiewe stories oor die Onafhanklike Ontwikkelingstrust te skryf. Macpherson oorweeg regstappe teen Tabane vir die ongegronde beskuldigings:
# Die Nasionale Kleurlingkongres het ‘n klag van regsverydeling teen die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, ingedien. Dit volg nadat Zille gesê het sy was vooraf bewus van die klopjag verlede Vrydag by die kantore van die Kaapstadse burgemeesterskomiteelede JP Smith en Xanthea Limberg. Die klopjag was na bewering deel van die Valke se ondersoek na twyfelagtige behuisingstenders ter waarde van een-miljard-rand. Die leier van die Nasionale Kleurlingkongres, Fadiel Adams, sê Zille moet verantwoording doen:
# Die DA-woordvoerder oor Onderwys in Gauteng, Sergio Isa dos Santos, gaan ‘n toesighoudende inspeksie doen by Laerskool Danie Malan in Tshwane. Dit volg op berigte van ontwrigtings, insluitend die brand van bande, wat ‘n gevaarlike omgewing skep. Dos Santos sal hom by die Kiesafdelingshoof vir Pretoria-Noord, Bronwynn Engelbrecht, en DA-wyksraadslid, Quentin Meyer, aansluit. Dos Santos veroordeel die optrede wat onderwys in die wiele ry en onderneem om met skoolbestuur en die publiek gesprek te voer om oorsake te identifiseer en oplossings voor te stel.
# Die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, vra vir vrede in die Demokratiese Republiek die Kongo na die dood van nege Suid-Afrikaanse soldate verlede week in Goma. Sy het by die African Women in Dialogue-konferensie in Johannesburg met SABC News gepraat en die belangrikheid van vrede en veiligheid vir Afrika se ontwikkeling beklemtoon:
# Rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het vyf spelers by sy groep gevoeg wat deur beserings geteister word voor Saterdag se eerste Sesnasieswedstryd teen Italië op Murrayfield. Dit sluit die Australies-gebore losvoorspeler Alexander Masibaka in, wat in Frankryk speel. Hy vervang vir Josh Bayliss, wat ‘n liesbesering opgedoen het. Die 23-jarige gewese speler van Western Force het vir Skotland gekwalifiseer deur sy ma, wat in die land gebore is. Die slotte Cameron Henderson en Ewan Johnson is ook ontbied, asook Glasgow se nuweling, Euan Ferrie, wat slot of losvoorspeler kan speel, en Glasgow se heelagter, Ollie Smith.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-64-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-741-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….