Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp agt aanklagte teen ‘n vermeende leier in Kaapstad se onderwêreld
# ‘n Nuwe Afrikaanse taxi-diens ondervind ‘n regsuitdaging omdat hulle vereis bestuurders moet Afrikaans kan praat
# En rugby: Die oud-Bok Frans Steyn sal na verwagting die Cheetahs se nuwe Curriebeker-hoofafrigter word
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het agt van die 124 aanklagte teen die vermeende onderwêreldleier, Nafiz Modack, en sy 14 medebeskuldigdes van die hand gewys. Regter Robert Henney het beslis die verhoor vir die moord op die polisiespeurder Charl Kinnear en poging tot moord op die prokureur William Booth gaan voort. Die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, sê hulle word aangekla van moord, bendebedrywighede en geldwassery:
# ‘n E-taxidiens van Pretoria is onder die vergrootglas omdat dit vaardigheid in Afrikaans van sy 90 bestuurders vereis. Die toepassing is genaamd Wanatu, ‘n woordspeling op die Afrikaanse vraag Waarnatoe en bied Engels aan vir gebruikers, maar kritici glo die taalbeleid vir bestuurders oortree dalk Suid-Afrika se gelykheidswette. Regskenners sê daar is grondwetlike beskerming teen diskriminasie tensy taalvereistes noodsaaklik is om die werk te kan doen. Wanatu het binne maande van tien-duisend tot 30-duisend registrasies gestyg en hou vol sy beleid bewaar die Afrikaanse erfenis.
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane, Dakota Legoete, weerlê die bewerings dat Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo nie genoeg hulpbronne het nie. Dit volg nadat nege soldate in Goma gesterf het. Legoete het die opposisie se oproep om vredesmagte te ontrrek voortydig geag en hul opofferings geprys. Hy het die sending se rol in streeksbestendigheid uitgelig:
# Ondersoekbeamptes het bewyse gevind van ‘n botsing met voëls op ‘n passasiersvliegtuig wat in Desember in Suid-Korea neergestort het en waarin 179 mense dood is. Luidens ’n voorlopige ondersoekverslag is die vere en bloedvlekke op albei enjins van die vliegtuig van Jeju Air afkomstig van die Baikal-krikeend, ’n soort trekvoël wat in groot swerms vlieg. Die ondersoek na die ongeluk, die dodelikste op Suid-Koreaanse grondgebied, sal nou fokus op die rol van die botsing met die voëls en ‘n betonstruktuur aan die einde van die aanloopbaan, waarteen die vliegtuig vasgejaag het.
# Rugby: Die tweemalige Wêreldkampioen-Springbok, Frans Steyn, sal na verwagting as hoofafrigter van die Cheetahs se Curriebeker-span oorneem. Dit volg nadat die Vrystaat die eerste keer in drie jaar nie die uitspeelronde van die Uitdaagbeker-kompetisie kon haal nie. Nog twee voormalige Springbokke, Ruan Pienaar en Tiaan Liebenberg, sal Steyn volgens berigte bystaan. Die 37-jarige Steyn was lid van die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-groepe in 2007 en 2019. Hy het tussen 2006 en 2022 in 78 toetse gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-370-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….