Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig Ramaphosa oor die versuim van optrede teen misdadige kabinetslede
# Betogers sluit die Laerskool Danie Malan in Pretoria
# En, kieket: Die spanne bo- en onder-aan die SA20-punteleer meet kragte in die Paarl
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa versuim om op te tree teen kabinetslede wat onder verdenking is, veral die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, wat ondersoek word oor ‘n onwettige tender. Die party kritiseer Ramaphosa se gebrek aan optrede oor korrupsiesake waarby ander ministers betrek word, onder meer die voormalige minister van Justisie, Thembi Simelane, in die VBS-skandaal, en noem ook die luukse herehuise van adjunkpresident Paul Mashatile. Die DA-lid Dianne Kohler Barnard versoek die instelling van ‘n parlementêre komitee om toesig te hou oor die Presidensie:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens herdenk vandag Nasionale Polisiedag in die Kingspark-atletiekstadion in Durban, KwaZulu-Natal, met ‘n vertoning van hulle vaardighede en die verering van gesneuwelde lede. Nasionale polisiekommisaris Fannie Masemola beklemtoon hulle poog om landsburgers te beskerm, polisiesterftes te verminder, en te verseker dat misdadigers vervolg word. Hy sê die vieringe is daarop gerig om lede te motiveer in hul voortgesette taak om misdaad uit te roei en die publiek te beskerm.
# Owerhede bly op die perseel nadat betogers vanoggend die Laerskool Danie Malan in Pretoria gesluit het. Daar is geen beserings aangemeld nie. Die betogers is ongelukkig oor skoolplasings en het die hekke gesluit en paaie met brandende buitebande versper. Die skool het reeds sy vermoë van een-duisend-350 leerders bereik en ouers is verwys na die nabygeleë North Park Primary, wat nog plek het. Privaat sekerheidsbeamptes het die slotte geknip om toegang tot die skool te verkry. Die Gautengse Onderwysdepartement monitor die situasie, en klasse sal na verwagting môre hervat.
# Krieket: Die spanne bo- en onder-aan die SA20 se punteleer speel vandag in die Paarl. Paarl Royals het reeds vir die uitspeelrondes gekwalifiseer nadat hulle ses van hulle vorige sewe wedstryde gewen het. Durban’s Super Giants is in die laaste plek nadat hulle slegs ‘n enkele wedstryd kon wen. Hulle het vyf verloor en twee was onbeslis. MI Cape Town is tans tweede op die punteleer, gevolg deur die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, Joburg Super Kings en Pretoria Capitals. Die eerste vier spanne dring deur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-952-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-762-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika staal homself teen toenemende klimaatsgevare en kenners waarsku mense om gereed te maak vir uiterste weerstoestande. Weerkundiges beklemtoon die noodsaaklikheid van strategieë om gemeenskappe in die toekoms teen klimaatverwante rampe soos siklone te beskerm. News24 berig die stygende temperature sal droogtes, hittegolwe en waterskaarste vererger. Siklone word in verskeie dele van Suidelike Afrika verwag. Die temperatuur het sedert 1991 met 0,2-grade Celsius per dekade gestyg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….