Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SANW word gekritiseer vir gebrek aan steun nadat soldate in die DRK sneuwel
# Janusz Waluś sê hy het nie berou omdat hy Chris Hani vermoor het nie
# En, tennis: Die Amerikaner Tommy Paul bereik die eerste keer die toptien op die wêreldranglys
# Die nasionale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Weermagvakbond, Pikkie Greeff, gee onvoldoende steun die skuld vir Donderdag se dood van nege Suid-Afrikaanse soldate tydens ‘n aanval van die M23-rebelle in Goma in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die soldate se weerstand het gekeer dat M23-magte Goma oorneem in uitdagende omstandighede. Ondanks heldhaftige pogings om die rebelle se vordering te fnuik, kritiseer Greeff swak kommunikasie vir die sterfgevalle en beserings:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê die omstrede Onteieningswet is ‘n ernstige aanval op die basis van eiendomsreg en bedreig nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners. Die wet wat onlangs bekragtig is, sit uiteen hoe die staat grond in sogenaamde openbare belang wil onteien. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die regering hou die wet voor as ‘n instrument vir hervorming, maar die waarheid is dat dit verreikende, negatiewe gevolge gaan hê vir voedselsekerheid, beleggersvertroue en ekonomiese bestendigheid:
# Die veroordeelde moordenaar, Janusz Waluś, sê hy het geen berou oor die sluipmoord op die SAKP se sekretaris-generaal, Chris Hani, nie en sou dit weer doen om die oorgang na ʼn demokratiese Suid-Afrika te keer. Hani is in 1993 buite sy huis in Boksburg, Gauteng, doodgeskiet. Waluś is verlede jaar na Pole gedeporteer nadat hy byna 30 jaar tronkstraf uitgedien het. Hy het in ʼn eksklusiewe onderhoud met Annika Larsen van eNCA gesê dit was ʼn bespotting van geregtigheid dat die Waarheids- en Versoeningskommissie hom amnestie ontsê het:
# Tennis: Die Amerikaner Tommy Paul het die grootste vordering gemaak op die jongste ATP-wêreldranglys en die eerste keer in sy loopbaan die toptien gehaal. Die 27-jarige, wat die Australiese Ope se kwarteindronde gehaal het, het twee plekke opgeskuif tot negende. Die Italianer Jannik Sinner, wat gister sy tweede agtereenvolgende Australiese Ope-titel gewen het, is steeds nommer een. Alexander Zverev van Duitsland, wat in die eindstryd in Melbourne teen Sinner verloor het, is tweede en Carlos Alcaraz van Spanje derde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-97-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Die 34-jarige Japannees, Yuji “Gump” Suzuki, het ʼn reis van sesduisend kilometer van Kenia na Suid-Afrika te voet voltooi terwyl hy ʼn riksja trek. Hy het in Julie verlede jaar weggespring en deur Tanzanië, Zambië, Botswana en Namibië gereis. Suzuki, wat bekend is vir sy wêreldwye trektogte, het al reise van China na Indië, deur Europa en die Verenigde State aangepak. ʼn Emosionele Suzuki het aan die einde van sy reis almal bedank wat hom tydens sy tog ondersteun het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….