Nuus 08:00
BULLETIN 27 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se VN-verteenwoordiger vra die M23-rebelle om hul gevegte in die DRK te staak
# Die MK-party sê die regering moet SANW-soldate onmiddellik aan die DRK onttrek
# En, ‘n Parlementêre komitee wil veiligheid by skole verskerp
# Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Mathu Joyini, het Rwanda se M23-rebelle gevra om onmiddellik alle vyandighede te staak en uit die Demokratiese Republiek die Kongo te onttrek. Dit volg nadat 13 soldate, waaronder nege lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, in gevegte met M23-rebelle dood is. Joyini het Sondag die VN-veiligheidsraad toegespreek en sê dis noodsaaklik dat die Rwandese weermag ophou om die M23-rebelle te ondersteun:
Die MK-party sê intussen die situasie in die Demokratiese Republiek die Kongo het ernstig verswak en is nie meer die vredessending waarop lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aanvanklik ontplooi is nie. Dit volg nadat nege SANW-soldate in die ooste van die DRK in skermutselings met M23-rebelle dood is. Die MK-party sê die regering moet die SANW onmiddellik uit die DRK onttrek, ‘n politieke oplossing deur streeksdiplomasie vind, en alle vegtende partye oorreed om na die onderhandelingstafel terug te keer.
# ActionSA in Gauteng doen ʼn beroep op die provinsiale Onderwysdepartement om voorkeur te gee aan skole se befondsing en seker te maak opvoedkundige aktiwiteite word nie ontwrig nie. Die LUR, Matome Chiloane, het verlede jaar gesê skole skuld munisipaliteite meer as 262-miljoen-rand, waarvan nie-artikel 21-skole 69-miljoen-rand skuld. Themba Mabunda van ActionSA sê die Julius Sebolai Primary School in Bram Fischerville, ʼn nie-artikel 21-skool, moet elke twee dae agtduisend-rand opdok om die ligte aan te hou:
# Die parlementêre gekose komitee oor Onderwys, Wetenskap en Kreatiewe Nywerhede vra dat veiligheid by skole verskerp word. Dit volg nadat die 54-jarige skoolhoof van Ekuthuleni Primary School, Jeffrey Sigudla, Donderdag buite die skoolterrein in Kraaifontein, Kaapstad, doodgeskiet is. Die komitee se voorsitter, Makhi Feni, sê dis kommerwekkend dat skoolhoofde slagoffers word van hierdie soort sluipmoorde en dat dit besig is om normaal te word. Hy sê wetstoepassing moet geen moeite ontsien nie om die skuldiges van hierdie bose dade aan te keer en uit te vind waarom hulle dit doen nie.
# Gholf: Daniel van Tonder van Suid-Afrika het sy landgenoot, Altin van der Merwe, op die eerste uitspeel-putjie gewen en die SDC Ope-titel by die Zebula-gholflandgoed en Spa in Limpopo opgeraap. Van Tonder het die dag begin met sewe houe agter Van der Merwe, maar het ʼn vyf-onder-baansyfer-ronde van 67 aangeteken om die uitspeelronde te haal, wat hy op die eerste ekstra putjie gewen het. Die Ier, Liam Nolan, was derde. Van Tonder sê elke oorwinning is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-510-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-760-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….