Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig nege Suid-Afrikaanse soldate het in die Demokratiese Republiek die Kongo omgekom in gevegte met M23-rebelle. Die koerant skryf die voortslepende stryd in die oostelike streek hou verband met onwettige goudmynbedrywighede ter waarde van nagenoeg 2,57-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die werklike toets vir die regering van nasionale eenheid wag die week wanneer die kabinetslekgotla gehou word. Kwessies soos die Onteieningswet en NGV sal op die spits gedryf word.
Dan skryf die blad die 59-jarige Shaik Adam Shabir Ammed is by die Malelane-hek van die Krugerwildtuin deur ‘n olifant doodgetrap toe hy sy kleinkinders van vyf- en 11-jaar wou beskerm.
En laastens word berig oor die motorfietsongeluk buite Willowmore wat die lewens van die oudrugbyspeler Tommie Webb en sy vrou Elizabeth Crolin geëis het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Right to Justice sal vandag ‘n strafregtelike saak teen ‘n voormalige senior regeringsbeampte, Ayanda Dakela by die Hillbrow-polisiestasie open. Die voorsitter van Right to Justice, Siphesihle Jele wil hê Dakela moet aangekla word van korrupsie wat na bewering by die Departement van Gesondheid gepleeg is.
En tweedens word berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula het bevestig dat vyf lede van die ANC se NUK, naamlik Zizi Kodwa, Obed Bapela, Cedric Frolic, Malusi Gigaba en David Mahlobo, voor die dissiplinêre komitee oor staatskapingsaanklagte en wangedrag sal verskyn.
# Sowetan:
Berig Gauteng is besig om sy gereedheid om op noodgevalle te reageer te beoordeel te midde van ‘n tekort aan brandweerwaens en personeeltekorte by munisipaliteite. Die koerant skryf in die geval van Johannesburg is die omstandighede selfs meer benard met slegs die helfte van die vereiste 30 brandweerwaens wat beskikbaar is om meer as 250 brande per maand te hanteer.
# En The Citizen:
Berig kenners sê die traagheid van president Cyril Ramaphosa om op te tree teen kabinetslede wat oortredings begaan het, kan toegeskryf word aan die geraamtes in sy eie kas.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die kabinetslekgotla die week.
En tweedens word berig daar is by die vragafdeling van die Kaapstadse Internasionale Lughawe ingebreek en juweliersware van sowat 200-miljoen-rand gesteel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is talle beweringe oor ‘n geheime tas en geld wat in ‘n kothuis versteek is wat na bewering verband hou met ‘n verdrinking Vrydag aan die suidekant van Jeffreysbaai.
En tweedens skryf die koerant ’n man wat na bewering ’n groep Oos-Kaapse rugbyondersteuners met rugbykaartjies vir ‘n All Black-wedstryd in Kaapstad bedrieg het, sal volgende week in die hof verskyn.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig ook oor die aanval op Suid-Afrikaanse soldate in die DRK.
En skryf tweedens die verdeeldheid in die regering van nasionale eenheid is besig om toe te neem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig terwyl Amerika wêreldwyd aangespoor word om sy onttrekking aan die Wêreldgesondheidsorganisasie te herroep, verwag Namibië nie dat dié delikate situasie sy bilaterale programme met die VSA sal beïnvloed nie.
Dan skryf die koerant vyf sakelui van Saoedi-Arabië het gefaal in hul hofaansoek in die Windhoek-hoërhof teen die Britse miljardêr, Harvey Boulter, vir die betaling van sowat 54-miljoen-rand.
En laastens is daar nuus oor jagkongresse.