Nuus 07:00
BULLETIN 27 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê SANW-soldate moet onmiddellik uit die DRK onttrek word
# Vliegtuigbrandstof wat by OR Tambo Internasionale Lughawe nodig is, is beskikbaar
# En, tennis: Jannik Sinner wen tweede agtereenvolgende Australiese Ope-titel
# Die EFF sê president Cyril Ramaphosa en die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, moet aanspreeklik gehou word vir die dood van nege soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die nege was onder 13 vredesmaglede wat deur M23-rebelle doodgemaak is. Die EFF-parlementslid, Carl Niehaus, het aan Newzroom Afrika gesê die SANW-soldate wat in die DRK ontplooi is, het te min hulpbronne en is nie voorbereid vir die gevaar wat die goed toegeruste M23-rebelle inhou nie:
Intussen eis RISE Mzansi dat Ramaphosa en Motshekga die volk dringend toespreek oor die Demokratiese Republiek die Kongo se sendingstatus. Dit volg na berigte dat nege SANW-soldate dood is en 18 gewond is. Die party sê die mag is steeds onderbefonds met tekorte aan hulpbronne wat enorme uitdagings veroorsaak. Hulle vra aanspreeklikheid oor wanbestuur wat soldate se lewens in gevaar stel.
# Die Departement van Vervoer sê die 121,1-miljoen liter vliegtuigbrandstof wat by die OR Tambo Internasionale Lughawe nodig is, is beskikbaar. Dit volg ná ‘n brandstoftekort weens die sluiting van die Nasionale Petroleum-raffineerders van Suid-Afrika waar ʼn brand vroeër die maand uitgebreek het. Die raffinadery sal weer teen die einde van Februarie heropen. Minister Barbara Creecy, wat verlede week met rolspelers in die brandstofbedryf vergader het, sê die partye sal seker maak die ingevoerde brandstofvoorraad word betyds van die Durban-hawe na OR Tambo vervoer.
# Die DA in Gauteng eis ‘n hersiening van die verouderde skoolkwintielklassifikasies ná oorsiginspeksies oorvol klaskamers en infrastruktuurkrisisse onthul het. Die DA se woordvoerder oor Onderwys in die provinsie, Sergio Isa dos Santos, beklemtoon dat kwintielwanklassifikasie ‘n uitwerking het op befondsing vir noodsaaklike herstelwerk. Dos Santos vra akkurate klassifikasie en verhoogde befondsing vir onderhoud, om nuwe skole te bou en ‘n veilige leeromgewing te verseker:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het Alexander Zverev geklop om sy tweede agtereenvolgende Australiese Ope en derde Grand Slam-titel in te palm. Die Italianer het die Duitser met 6-3, 7-6, 6-3 verslaan om slegs die agste speler in die Ope-era te word wat die eerste drie Grand Slam-enkelspel-eindstryde vir mans te wen. Sinner is nou op ʼn 21-wedstryd-wenpad op die hardebaan-majors, en sê hy is bewus van die ekstra druk om as die verdedigende kampioen te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-46-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-758-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Die Polisiediens se Liefdadigheidsgholfdag het meer as elf-miljoen-rand ingesamel vir die SAPD se Onderwystrust, wat kinders steun van beamptes wat aan diens dood is. Sedert 2010 het SAPSET meer as een-duisend-700 kinders bygestaan, met 54 wat gradueer het en 146 wat matriek geslaag het. Die polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die leierskap van die diens beklemtoon die rol van die inisiatief in die bemagtiging van jong Suid-Afrikaners deur onderwys en die aanmoedig van akademiese prestasie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….