Nuus 13:00
BULLETIN 25 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kritiseer die bestuur in die DA-geleide Kaapstad na ‘n klopjag
# Die PAC beskryf die Wet op Onteiening as ‘n voorwaartse stap vir grondverspreiding
# En krieket: Klusener vra ‘n vonk in die sukkelende Durban’s Super Giants se span
# Die ANC-koukus in Kaapstad het kommer uitgespreek oor die klopjagte op die kantore van die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, en sy Energie-eweknie, Xanthea Limberg. Die party noem herhaalde voorvalle, waaronder Malusi Booi se verwydering en inhegtenisneming vroeër, as voorbeelde van die sistemiese bestuursmislukkings in die DA-geleide administrasie. Banele Majingo van die ANC vra deursigtigheid:
# Die president van die PAC Mzwanele Nyhontso het die bekragtiging van die Onteieningswetsontwerp tot wet geloof, en noem dit ‘n belangrike stap in die verspreiding van grond. Nyhontso het gepraat in die wandelgange van die PAC se nasionale uitvoerende komiteevergadering in Johannesburg en die rol van die wet beklemtoon in die herstel van die waardigheid van grondlose swart Suid-Afrikaners. Hy onderstreep dit skep ‘n platform vir onderhandelings, en vir vergoeding vir geskiedkundige ongeregtighede:
# Die leier van die Basotho National Party, Machesetsa Mofomobe, het ‘n sluipmoordaanval buite sy huis in Maseru oorleed. Volgens ‘n polisieverslag het die aanvallers die opposisieleier drie keer geskiet voor hulle op die vlug geslaan het. Mofomobe word behandel in ‘n hospitaal waarvan die naam nie vrygestel is nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
# Krieket: Durban’s Super Giants se hoofafrigter, Lance Klusener, sê hulle het iemand nodig om die vonk in die span aan te steek na ses nederlae in hulle eerste sewe SA20-wedstryde. Die span is onderaan die punteleer na hulle verlede jaar die eindstryd gehaal het. Hulle moet hulle oorblywende drie groepswedstryde teen MI Cape Town, Paarl Royals en Joburg Super Kings wen om die groepsfase te oorleef. Klusener glo hulle het baie goeie spelers wat nog net nie op dreef is nie.
# En, die stadsraad van New York gaan wetgewing oorweeg wat werkers sal toelaat om betaalde siekverlof te neem om siek troeteldiere en diensdiere te versorg. Die raadslid Shaun Abreu, wat die verordening ingedien het, sê die verandering kan die gesondheid verbeter van beide troeteldiere en hulle eienaars. Studies toon interaksie met diere verlaag vlakke van die streshormoon kortisol en bloeddruk. Navorsers het bevind diere kan eensaamheid verlig, gevoelens van maatskaplike steun verhoog en mens se gemoedstoestand verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….