Nuus 09:00
BULLETIN 25 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom vier mylpaal-dieselbesparings van 16,4-miljard-rand
# Die EFF verwelkom die polisieklopjag op DA-amptenare in Kaapstad
# En sokker: Nagelsmann verleng sy kontrak as die hoofafrigter van Duitsland tot na Euro 2028
# Eskom vier ‘n 62,4-persent dieselbesparing vergelege met verlede jaar weens verbeterde opwekkingskapasiteit. Die mylpaal is bereik terwyl beurtkrag vir 303 dae opgeskort bly, wat neerkom op tien maande se ononderbroke kragvoorsiening. Die kragverskaffer sê hoewel beurtkrag opgeskort is, sukkel hy tans met netwerk-oorbelading in sekere gebiede weens onwettige verbindings, vandalisme, meterpeutering, ongeoorloofde netwerk-operasies, diefstal van netwerktoerusting, en die aankoop van elektrisiteit van ongelisensieerde verkopers. Hy vra die publiek om onwettige verbindings te vermy en dit by die owerhede aan te meld.
# Die Johannesburgse Hooggeregshof het die borgtogaansoek van die voormalige Eskom-kontrakteur, Michael Lomas, tot 29 Januarie 2025 uitgestel. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie beskryf Lomas as’n selfmoordrisiko en ‘n vlugrisiko veral na sy reis na Brittanje via Namibië in 2018 ondanks deurlopende ondersoeke. Woordvoerder van die direktoraat, Henry Mamothame, sê Lomas het voorheen uitlewering teengestaan om ʼn verhoor in Suid-Afrika te ontduik:
# Die EFF in die Wes-Kaap prys die polisieklopjag op die kantore van die DA-burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, en sy eweknie vir Energie, Xanthea Limberg, in Kaapstad, wat verbind word met tenderbedrog in die bousektor. Ntsikelelo Tyandela van die EFF het steun uitgespreek vir die ondersoek en gevra vir die verwydering van die amptenare:
# Die Louvre, die wêreld se gewildste museum en die tuiste van Leonardo da Vinci se Mona Lisa, vra dringend hulp van die Franse regering om sy verouderde uitstalsale te herstel om sy weergalose kunswerke beter te beskerm. Die president van die Louvre, Laurence des Cars, sê ‘n besoek aan die museum het ‘n fisiese uitdaging geword, met kunswerke wat moeilik is om te vind, ‘n gebrek aan rusruimte, en onvoldoende eet- en sanitasie-geriewe. Die Louvre het verlede jaar 8,7-miljoen besoekers verwelkom, al is dit net ontwerp vir vier-miljoen besoekers per jaar.
# En sokker: Julian Nagelsmann se kontrak as hoofafrigter van Duitsland is verleng tot na Euro 2028 in Brittanje en Ierland. Hy sê sy ondervinding tydens Euro 2024 in sy vaderland het hom oorreed om aan te bly vir die kompetisie oor drie jaar, en vir 2026 se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Die 37-jarige Nagelsmann het in 2023 oorgeneem en is Duitsland se tweede jongste hoofafrigter ooit. Die verlenging van sy kontrak beëindig gerugte dat hy na 2026 na klubsokker sou terugkeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….