Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Klopjag word uitgevoer op die kantore van twee Kaapstadse burgemeesterskomiteelede
# Aansienlike stygings in brandstofpryse word in Februarie verwag
# En, gholf: St Andrews bied weer in 2027 die Britse Ope aan
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, vra dringende inligting van die polisie ná vandag se klopjag op die kantore van die burgemeesterskomiteelede vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, en van Informele Nedersettings, Water, Afvaldienste en Energie, Xanthea Limberg. Hill-Lewis sê albei gee hulle volle samewerking, maar is onbewus van enige bewerings teen hulle. Hy beklemtoon hoe belangrik duidelikheid rondom die kwessie is, en versoek die polisie om verdere ondersoeke met meer deursigtigheid te benader.
Die GOOD-party vra intussen dat Smith en Limberg geskors word. Die polisie het bevestig die ondersoek hou verband met tenderbedrog in die bou-afdeling. GOOD eis deursigtigheid van Hill-Lewis om die ondersoek bekend te maak. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die klopjag volg op ‘n soortgelyke proses teen die voormalige burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Malusi Booi:
# Motoriste moet gereed maak vir aansienlike stygings in brandstofpryse in Februarie. Data van die Sentrale Energiefonds toon onderverhalings van 86- tot 93-sent-per-liter vir petrol en ongeveer een-rand-10-sent-per-liter vir diesel, ondanks die sterker rand en laer oliepryse. Business Tech berig die onlangse versterking van die rand en die dalings in oliepryse gaan tyd neem om die pryse te beïnvloed. Ekonome waarsku stygende brandstofkostes kan inflasie verder opstoot en vroeg in die jaar druk op huishoudings se begrotings plaas.
# Green Connection steun die Suider-Afrikaanse geloofsgemeenskappe se omgewingsinstituut en groundWork, se skerp kritiek op Eskom se jongste voorstel. Die Nasionale Energiereguleerder begin volgende maand met openbare verhore oor Eskom se voorgestelde kleinhandeltarief-plan. Liz McDaid van Green Connection sê ‘n omvattende proses word benodig waarby die hele land by elektrisiteit- en energiekwessies betrokke kan raak:
# Gholf: St Andrews se ou baan in Skotland bied in 2027 die 155ste Britse Ope aan vir ‘n nuwe rekord 31ste keer. Dit is volgens die tradisionele siklus van elke vyf jaar. Die Ope is in 2022 laas op St Andrews gehou toe die Australiër Cameron Smith die 150ste uitgawe van die sport se oudste major-toernooi gewen het. Die uitvoerende hoof van die beheerliggaam R&A, Mark Dobson, sê die Ope beloof om nog ‘n mylpaal-geleentheid te wees op een van die sport se beste en geskiedkundigste bane.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-39-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-779-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….