Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Aansienlike styging in brandstofpryse word volgende maand verwag
# Markte verstewig na ‘n rekord-dag op Wallstraat
# En, rugby: Die Blitsbokke is onoorwonne op die eerste dag in Perth
# Motoriste moet gereed maak vir aansienlike stygings in brandstofpryse in Februarie. Data van die Sentrale Energiefonds toon onderverhalings van 86- tot 93-sent-per-liter vir petrol en ongeveer een-rand-10-sent-per-liter vir diesel, ondanks die sterker rand en laer oliepryse. Business Tech berig die onlangse versterking van die rand en die dalings in oliepryse gaan tyd neem om die pryse te beïnvloed. Ekonome waarsku stygende brandstofkoste kan inflasie verder opstoot en vroeg in die jaar druk plaas op huishoudings se begrotings.
# Die GOOD-party het die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, gevra om die Onteieningswet te verdedig of te bedank. Dit volg nadat hy grondonteiening sonder vergoeding op sosiale media verwerp het. Die party sê Macpherson se teenkanting is teen die Grondwet en dring aan hy moet sy amp laat vaar as hy nie die wet kan verdedig nie. Sekretaris-generaal Brett Herron voer aan die wet gaan nie oor lukrake beslagleggings nie, maar oor die regstelling van geskiedkundige ongeregtighede:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta versoek die privaat Afrikaanse instelling vir hoër onderwys, Akademia, om Engels saam met Afrikaans as onderrigmedium in te stel. Makaneta is vol lof vir die toegewydheid van die instelling tot die behoud van die Afrikaanse kultuur, maar beklemtoon die belangrikheid van inklusiwiteit in hoër onderwys. Hy glo indien kursusse ook in Engels aangebied word, sal dit ‘n meer diverse studentebevolking lok, veeltaligheid bevorder en Akademia as ‘n leier posisioneer in die bevordering van eenheid in Suid-Afrika se multikulturele samelewing:
# Wêreldmarkte het vandag gestyg na ‘n rekord-dag op Wallsteraat na die Amerikaanse president, Donald Trump, se belofte oor belastingverlaging, terwyl die jen versterk het na ‘n verwagte rentekoersverhoging deur die Bank van Japan. Trump het in ‘n belangwekkende toespraak via videoskakel op die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos, Switserland, aangedring op laer rentekoerse en gesê hy sal belasting verlaag vir ondernemings wat in Amerika belê, en tariewe hef op diegene wat dit nie doen nie. Hy het Saoedi-Arabië en OPUL ook gevra om oliepryse te verlaag.
# Rugby: Die Blitsbokke moes alles uithaal om die gashere in die tweede groepwedstryd te klop en die eerste dag onoorwonne af te sluit op die sewestoernooi in Perth, Australië. Suid-Afrika het 10-7 koning gekraai na twee onverdoelde drieë deur Donavan Don en David Betts terwyl Maurice Longbottom James Turner se drie in die eerste helfte verdoel het vir die Aussies. Die Blitsbokke het Amerika vanoggend in die eerste groepwedstryd naelskraap geklop nadat Ronald Brown in die doodsnikke ʼn drie gedruk het. Hulle speel môre-oggend hulle laaste groepwedstryd teen Argentinië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-187-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-782-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….