Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke beloof om eiendomsreg te beskerm ingevolge die nuwe Onteieningswet
# Tennis: Paula Badosa sê Aryna Sabalenka gaan moeilik geklop word in die eindstryd in Melbourne
# En mode en vermaak word môre by die Kaapstadse Met-perdewedrenne verwag
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, onderneem om te verseker die pasondertekende Onteieningswet word nie misbruik nie en eiendomsreg bly beskerm ingevolge die Grondwet. President Cyril Ramaphosa het die wet onderteken wat onteiening sonder vergoeding in bepaalde gevalle van openbare belang toelaat. Die ANC ondersteun die wet as hervormend, maar die DA en die VF Plus betwis dit in die hof. Macpherson beklemtoon regulasies sal teen misbruik beskerm en verseker die onteieningsproses sal grondwetlike en wetlike riglyne volg.
AfriForum eis intussen dat Macpherson weier om die wet te mede-onderteken. Die organisasie waarsku dat dit ANC-beleid moontlik maak, en dit benadeel eiendomsreg. AfriForum se woordvoerder, Ernst van Zyl, benadruk die minister het die grondwetlike gesag om die proklamasie van die wet te verhinder en beloof regstappe indien private eiendomsreg deur onteiening sonder vergoeding bedreig word:
# Die Departement van Gesondheid het die dood van nog ‘n vermeende onwettige mynwerker in Stilfontein, Noordwes, bevestig. Die oorledene was deel van die 33 onwettige mynwerkers wat onder polisiebewaking in die Klerksdorp/Tshepong-hospitaal opgeneem is ná hul aangekeer is tydens ‘n nasionale reddingsoperasie by ‘n ongebruikte myn. Tshegofatso Mothibedi van die departement sê hulle werk saam met wetstoepassing om verdere lewensverlies te voorkom:
# Tennis: Die Spaanse speler Paulo Badosa sit haar geld op haar goeie vriendin, Aryna Sabalenka van Belarus, om môre haar derde agtereenvolgende Australiese Ope-titel in te palm. Die wêreld-nommer-een het haar 6-4, 6-2 afgeransel in gister se halfeindstryd. Sabalenka speel teen die Amerikaner Madison Keys, wat bloed gesweet het om die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, te verslaan. Badosa sê Sabalenka was so goed op Melbourne Park, dit het soos ‘n PlayStation-speletjie gelyk en sy glo dit gaan moeilik wees om haar te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-467-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-775-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die ikoniese Kaapstadse Met-perdewedrenne gaan môre sportgeesdriftiges én sosiale vlinders na die Kenilworth-renbaan lok. Vanjaar se tema is Couture Unleashed, wat avant-garde kuns en tydlose elegansie laat saamsmelt. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê mense kan kom kyk hoe die wêreld se beste volbloedperde meeding, en hulle verlustig aan ‘n glansryke vertoning van styl en vermaak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….