Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse produksie The Last Ranger is vir die 97ste Oscar-toekennings benoem as die beste lewende aksie-kortfilm. Die rolprent in isiXhosa is geregisseer deur Cindy Lee en verken die reis van ‘n veldwagter en ‘n jong seun deur renosterstropery en bewaringspogings. Die rolprent het sedert sy vrystelling talle toekennings en lofbetuigings ontvang, insluitend die Green Fire-toekenning op die Amerikaanse Bewarings-rolprentfees en Beste Kort Vertelling op die San Diego Internasionale Rolprentfees. Die toekenningseremonie vind op 2 Maart plaas met die komediant Conan O’Brien as gasheer.
Die Franse produksie van die Spaanse rolprent Emilia Pérez het intussen altesaam 13 Oscar-benoemings ingepalm en is die mees benoemde buitelandse rolprent in Oscar-geskiedenis. Die rolprent vertel die verhaal van ‘n Mexikaanse kartel-leier wat ‘n prokureur inroep om hom te help verdwyn en in ‘n vrou te verander. Tien rolprente sal meeding om die titel van beste rolprent. Die ander rolprente is Anora, The Brutalist, A Complete Unknown, Conclave, Dune: Part Two, I’m Still Here, Nickel Boys, The Substance en Wicked.
# Die Universiteit van Pretoria het sy puntetelling verbeter in 22 van 31 vakrigtings op Times se jongste vakrigtingsranglys vir hoër onderwys. Die aantal vakrigtings waarin die universiteit eerste in Suid-Afrika is, het gestyg van drie verlede jaar tot ses vanjaar. Die vakrigtings is Rekeningkunde en Finansies, Argitektuur, Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Regte, Sportwetenskap en Veeartsenykunde. Die universiteit se vise-kanselier, professor Francis Petersen, sê die prestasie is ‘n bewys van die instelling se veelsydige uitnemendheid.
# Die Papiervervaardigingsvereniging van Suid-Afrika het ‘n vennootskap met Book Dash gesluit om toegang tot boeke en geletterdheid in die land te verbeter. Die vereniging se 2024-opname oor boekbesit het onthul 31-persent van deelnemers besit minder as tien boeke. Die uitvoerende direkteur van die vereniging, Jane Molony sê hulle steun Book Dash se 2025-veldtog om boeke meer toeganklik te maak vir jong lesers. Book Dash het reeds meer as 4,5-miljoen boeke aan kinders oral in die land versprei en gee boeke in verskillende inheemse tale uit.
# En die ikoniese Kaapstadse Met-perdewedren gaan môre sportgeesdriftiges én sosiale vlinders na die Kenilworth-renbaan lok. Vanjaar se tema is Couture Unleashed, wat avant-garde kuns en tydlose elegansie laat saamsmelt. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê mense kan kom kyk hoe die wêreld se beste volbloedperde meeding, en hulle verlustig aan ‘n glansryke vertoning van styl en vermaak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….