Nuus 11:00
BULLETIN 24 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus gaan die nuwe Onteieningswet in die Konstitusionele Hof betwis
# Wêreldmarkuitdagings belemmer Suid-Afrikaanse wynuitvoere
# En tennis: Alexander Zverev dring deur na sy eerste Australiese Ope-eindstryd
# Die Vryheidsfront Plus sê hy gaan as lid van die regering van nasionale eenheid alles in sy vermoë doen om ʼn wysigingswetsontwerp te laat uitreik om die Onteieningswet se grondwetlikheid uit te daag. Die wet sit uiteen hoe staatsinstellings om verskeie redes grond in openbare belang mag onteien. Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê die wet is nadelig vir eienaars en tot voordeel van die onteieningsowerheid. Hy sê hulle gaan die Konstitusionele Hof nader:
# Suid-Afrika se wynuitvoere het in 2023 gesukkel op ‘n krimpende wêreldmark en ‘n waardegroei van vier-persent van 10,4-miljard-rand behaal. Wines of South Africa se uitvoerende hoof, Siobhan Thompson, sê verpakte wynverkope het met vier-persent tot 7,9-miljard rand gestyg, terwyl grootmaatwynverkope met ses-persent tot 2,4-miljard-rand gegroei het ondanks kleiner hoeveelhede. Thompson sê wêreldwye wynverbruik het sedert 2008 met tien-persent gedaal en inflasie en geopolitieke spanning het die afname vererger. Suid-Afrikaanse wyne het egter groei getoon in sleutelmarkte soos Afrika, Kanada en Japan.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies, Deidré Baartman, het vier munisipaliteite geluk gewens wat gekwalifiseer het vir die afskryf van Eskom-skuld. Die Matzikama-munisipaliteit het vir 37,7-miljoen-rand gekwalifiseer, Cederberg vir 15-miljoen-rand, Kannaland vir 14,8-miljoen-rand en Beaufort-Wes vir 25,6-miljoen-rand. Baartman sê ontleders van die provinsiale Tesourie het noukeurige oorsig gedoen en hulle het ook ondersteuning en raad verskaf wat die plaaslike owerhede in staat gestel het om aan Eskom se voorwaardes te voldoen:
# Die Verenigde Nasies sê hoewel vordering gemaak is met die onderwysteikens vir 2030, moet daar steeds hard gewerk word om gehalte-onderrig vir almal toeganklik te maak. Dit is vandag Internasionale Onderwysdag met die tema “K-I en Onderwys: Die behoud van die menslike aspek in ‘n wêreld van outomatisering”. Volgens die VN is 244-miljoen volwassenes en tieners oral in die wêreld nie in die skool nie, terwyl 617-miljoen nie kan lees of basiese wiskunde doen nie. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê onderwys is wêreldwyd ‘n basiese mensereg wat altyd gerespekteer moet word:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, is deur na sy eerste eindstryd op die Australiese Ope nadat die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindronde weens ʼn besering moes onttrek. Die Duitser, wat sy eerste Grand Slam-titel wil wen, het die eerste stel gewen voordat die Serwiër moes tou opgooi. Zverev speel in die eindstryd teen die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, of Ben Shelton van Amerika. Zverev sê hy het baie geleer uit sy twee nederlae in Grand Slam-eindstryde:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-750-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-277-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….