Nuus 06:00
BULLETIN 24 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan die Onteieningswetsontwerp betwis
# Minister Mantashe sê onwettige mynbou kos die ekonomie 60-miljard-rand
# En die Suid-Afrikaanse rolprent The Last Ranger word vir ‘n Oscar benoem
# Die DA het sy sterk teenkanting teen die Onteieningswetsontwerp, wat president Cyril Ramaphosa onderteken het, herhaal. Die wet, wat ’n vyf jaar lange proses van openbare konsultasie en parlementêre beraadslaging ondergaan het, maak voorsiening vir grondonteiening sonder vergoeding. Dit maak ook voorsiening vir sekere gevalle waar onteiening sonder vergoeding in die openbare belang gepas is. Willie Aucamp van die DA sê hul regspan berei tans die party se saak voor:
# Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, sê die regering verskerp sy stryd teen onwettige mynbou met inisiatiewe soos Operasie Vala Umgodi. Die ekonomie het verlede jaar weens onwettige mynbedrywighede ’n geraamde verlies van 60-miljard-rand gely. Volgens Mantashe hou onwettige mynbou ‘n ernstige bedreiging vir die ekonomie in, insluitend aansienlike risiko’s vir openbare veiligheid en die omgewing:
# Die president van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, lei vandag protesaksie teen die aflegging van mynwerkers. Die betoging vind in samewerking met die jeugstruktuur van die Nasionale Unie van Mynwerkers plaas by die Mineraleraad van Suid-Afrika in Rosebank, Johannesburg. Dit volg op ArcelorMittal se beplande sluiting van sy staalonderneming, wat drie-duisend-500 poste raak. Jeugliga-woordvoerder Zama Khanyase eis onmiddellike optrede om werksverliese te stop en werkers se lewensbestaan te beskerm:
# Die hoofaanklaer van die Internasionale Strafhof versoek lasbriewe teen senior Taliban-leiers in Afghanistan oor die vervolging van vroue, ‘n misdaad teen die mensdom. Karim Khan sê daar is genoeg rede om die opperleier, Haibatullah Akhundzada en die hoofregter, Abdul Hakim Haqqani strafregtelik verantwoordelik te hou vir misdaad teen die mensdom op grond van geslag. Khan sê Afghaanse vroue en meisies, sowel as die LGBTQ-gemeenskap, staar ‘n ongekende, gewetenlose en voortdurende vervolging deur die Taliban in die gesig.
# Rugby: Die Haaie het ‘n paar spelers terugverwelkom terwyl ander beseer is voor môre se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Cardiff. Twee van Suid-Afrika se opwindendste spelers, Ethan Hooker en Jurenzo Julius, is die senterpaar. Vincent Tshituka is terug en voer die span aan terwyl Siya Kolisi ‘n verpligte Springbok-rusperiode geniet. Daar is ook ‘n welkome terugkeer vir die Bok-vleuel Makazole Mapimpi en sy nasionale spanmaat Jordan Hendrikse, wat op heelagter begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-230-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-754-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse kortfilm, The Last Ranger, is vir die 97ste Oscar-toekennings as die beste lewende aksie-kortfilm benoem. Die rolprent in isiXhosa is geregisseer deur Cindy Lee en verken die reis van ‘n veldwagter en ‘n jong seun deur renosterstropery en bewaringspogings. Die rolprent het sedert sy vrystelling talle toekennings en lofbetuigings ontvang, insluitend die Green Fire-toekenning by die American Conservation Film Festival en Beste Kort Vertelling by die San Diego Internasionale Rolprentfees. Die toekenningseremonie word op 2 Maart aangebied met die komediant, Conan O’Brien, as gasheer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….