Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke ondersoek minister Ntshavheni steeds vir korrupsie
# Rugby: Die Sesnasies stel die eerste keer ‘n 20-minute-rooikaart bekend
# En Ricky Gervais loof sy honde-medespeler in “After Life”
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het bevestig daar word deurlopend ondersoek ingestel na die ampstermyn van die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, as munisipale bestuurder van Ba-Phalaborwa in Limpopo. Ntshavheni word verdink van korrupsie in verband met ‘n rekeningkundige kontrak van 2,5-miljoen-rand in die 2008/2009-boekjaar. Lebeya sê die Valke het die saak reeds in 2021 ondersoek en sal bevindinge aan die Nasionale Vervolgingsgesag voorlê sodra die ondersoek afgehandel is:
# Die Stigting vir Menseregte en die families van slagoffers uit die apartheidsera dagvaar die regering omdat hy nie opgetree het in sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie nie. Hulle wil hê die hof moet verklaar hulle regte is geskend en befondsing verskaf vir ondersoeke en gedenktekens, en eis ‘n ondersoek na politieke inmenging. Odette Geldenhuys van die stigting het op ‘n nuuskonferensie gesê die doel is om waarheid en afsluiting aan oorlewendes en families te bring:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het openbare verteenwoordigers versoek om by die wettige riglyne te hou en nie mense wat politieke drag aantrek, saam te bring wanneer hulle skole besoek nie. Hy versoek ook politieke partye om die wet te respekteer en intimidasie te vermy. Maynier veroordeel die dreigemente om skole te sluit en benadruk hoe belangrik dit is om kinders se reg tot onderwys te beskerm:
# Rugby: Die 20-minute-rooikaart word vanjaar die eerste keer in die Sesnasies gebruik nadat dit in die November-toetse op die proef gestel is. Dit beteken ‘n span kan na 20 minute ʼn speler vervang wat met ʼn rooikaart afgestuur is. ʼn Permanente rooikaart sal egter geld indien ʼn oortreding as doelbewus of baie gevaarlik beskou word. Die Sesnasies se hoof van rugby, Julie Paterson, sê die reëlverandering en ander proefnemings vorm deel van maatreëls om aspekte van die spel en toeskouers se ervaring te verbeter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-507-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-748-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-62-sent per vat.
# Ten slotte: Ricky Gervais het hulde gebring aan die hond wat in sy TV-program, After Life verskyn het. Die Britse komediant en akteur sê Anti het dit sy gunsteling-verfilmingservaring gemaak en hy het honderde kere per dag vir haar gesê sy is ‘n baie soet meisie. Sy het Brandy geheet in al 18 episodes van die Netflix-komedie oor die plaaslike koerantverslaggewer Tony, vertolk deur Gervais, wat handel oor Tony wat probeer aanpas ná sy vrou se dood. Anti is op die ouderdom van 13 vreedsaam dood by haar huis in Oxfordshire.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….