Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stigting vir Menseregte vra grondwetlike skadevergoeding vir oorlewendes van gruweldade uit die apartheids-era
# Rusland is gereed vir wedersydse respekvolle dialoog met Trump oor die oorlog met Oekraïne
# En, tennis: Paula Badosa het nie raad met die tweemalige verdedigende kampioen Aryna Sabalenka in Australiese Ope-halfeindstryd nie
# Die Stigting vir Menseregte en die families van slagoffers uit die apartheidsera dagvaar die regering omdat hy nie opgetree het in sake uit die Waarheids- en Versoeningskommissie nie. Hulle wil hê die hof moet verklaar hulle regte is geskend en befondsing verskaf vir ondersoeke en gedenktekens, en eis ‘n ondersoek na politieke inmenging. Odette Geldenhuys van die stigting het op ‘n nuuskonferensie gesê die doel is om waarheid en afsluiting aan oorlewendes en families te bring:
# Die DA se federale voorsitter, Ivan Meyer, waarsku alle Suid-Afrikaners oor ongegronde bespiegelings oor ‘n moontlike vroeë verkiesingskongres om nuwe leierskap te verkies voor die huidige termyn van drie jaar verstryk. Daar is gerugte dat John Steenhuisen moontlik vanjaar reeds as leier vervang kan word. Meyer sê gissings in die media is nie gegrond op enige besluitnemingstruktuur van die party nie:
# Die Departement van Landbou maan boere om nie plante te verskuif nie om die verspreiding van kopvrotsiekte te voorkom wat in papajaboorde in Limpopo en Mpumalanga opgespoor is. Volgens die departement bedreig hierdie vernietigende patogeen oeste soos sitrus en pynappels. Hulle sê maatreëls vir plantgesondheid is ingestel en beamptes doen opnames om die omvang van die uitbreking te bepaal. Boere word versoek om streng beheermaatreëls in te stel en reisigers word gewaarsku om nie landbouprodukte onwettig in te voer nie.
# Rusland sê daar is nie veel nuut in die Amerikaanse president, Donald Trump, se jongste opmerkings oor die konflik in Oekraïne nie, maar Moskou is gereed vir wedersydse respekvolle dialoog met hom. Trump het gister gedreig met nog sanksies teen Moskou as hy nie ‘n ooreenkoms aangaan om sy oorlog van byna drie-jaar met Oekraïne te beëindig nie. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitri Peskov, sê Trump se eerste presidentskap het bewys hy hou van sanksies. Verwagtinge is groot dat die Russiese president, Vladimir Putin, en Trump binnekort telefonies sal gesels oor die konflik.
# Tennis: Paulo Badosa het nie raad geweet met die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, in die halfeindronde van die Australiese Ope nie. Die wêreld-nommer-een het die derde agtereenvolgende jaar na die eindstryd deurgedring toe sy die elfde gekeurde Spanjaard 6-4, 6-2 verslaan het. Die 26-jarige het daarmee nog ‘n tree nader gegee aan haar vierde Grand Slam-titel. Haar teenstander in Saterdag se eindstryd in Melbourne is die wenner van die ander halfeindstryd tussen die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, en die 19de gekeurde Amerikaner Madison Keys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-939-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….