Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Reuters-peiling voorspel die Reserwebank sal volgende week die rentekoers met 25 basispunte verlaag
# Minister George verseker visvangregte vir kleinskaalse vissers
# En die dodetal in ‘n brand in ‘n Turkse ski-oord styg tot 78
# ‘n Reuters-peiling voorspel die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal na verwagting op 30 Januarie sy terugkoopkoers verlaag met 25 basispunte tot 7,5-persent, met nog ‘n verlaging wat in Maart verwag word. Ekonome voorspel die bank sal ‘n finale verlaging tot die derde kwartaal uitstel. Inflasie is steeds minder as die Reserwebank se teiken, maar wêreldwye onsekerhede, insluitend Amerikaanse beleid, kan toekomstige koersaanpassings beïnvloed. Volgens die peiling sal Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met 1,7-persent groei.
# Die minister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Dion George, het 36-persent van appèlaansoeke omgekeer, wat kleinskaalse vissers toegang verleen tot spesies soos kreef, perlemoen en stokvis. Hoewel kwotas onveranderd bly, sal meer as 60 koöperasies langs die kus daarby baat. Andrew de Blocq van die DA sê dit toon ‘n verskuiwing teenoor vorige wanbestuur en verseker visvangregte pas by kulturele tradisies aan, terwyl volhoubaarheid en kwessies met stropery aandag kry:
# Die GOOD-party beskuldig die DA-geleide Wes-Kaapse regering dat hy voorkeur gee aan oorwegend wit skole terwyl swart en bruin gebiede minder hulpbronne het. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hulle het aanvaar die provinsie se twee-duisend-407 verlore onderwysposte sou eweredig onder die een-duisend-468 openbare skole versprei word. Hy sê die meeste besnoeiings is egter by skole waar oorwegend bruin en swart leerders is:
# Agt-en-sewentig mense het nou gesterf in die brand by ‘n ski-oord in Turkye. Gesinne het omgekom toe die inferno Dinsdag in die vroeë oggendure deur die Grand Kartal-hotel by die Kartalkaya-oord beweeg het. Vrae het ontstaan oor brandveiligheids-maatreëls in die luukse 12-verdiepinggebou omdat daar net een brandtrap was, en geen besproeiingstelsel nie. Die brandalarm was ook buite werking. Elf mense is in hegtenis geneem, onder andere die hoteleienaar, hoofbestuurder en hoofelektrisiën, asook die plaaslike brandweerhoof.
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne kan na die naweek almal onder die voorste agt van die Verenigde Rugbykampioenskap wees. Die Bulle is tans vierde, die Haaie vyfde, die Stormers tiende en die Leeus twaalfde. Die Leeus verwelkom die Bulle op Ellispark, die Stormers speel weg teen Leinster en die Haaie pak Cardiff. Die Leeus moet die Bulle klop om die top-agt te haal en die Stormers is net een punt agter Edinburgh wat in die agste plek is, maar het een wedstryd meer oor as die Skotse span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-811-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-746-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….