Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Openbare Werke gaan veiligheidsmaatreëls verskerp om staatseiendom te beskerm
# Kenners waarsku veldbrande soos in Los Angeles kan Kaapstad bedreig
# En SA Rugby kondig ‘n nuwe borgskapsooreenkoms met Coca-Cola aan
# Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het kommer uitgespreek oor die voortgesette vernietiging van infrastruktuur, wat wissel van aluminium en kabels wat gesteel word, tot die vernietiging van verkeersligte, spoorlyne en pilare. Sekerheidspersoneel wat by die Public Works House in die sakekern van Pretoria gestasioneer is, het gisteraand ‘n groep misdadigers se planne gefnuik toe hulle op staatseiendom toegesak en aluminium en ander staalinfrastruktuur, insluitend meubels, afgeruk het. Die departement se woordvoerder, Lennox Mabaso, sê twee mense is gewond:
# Everest Wealth se uitvoerende hoof, Thys van Zyl, sê Donald Trump se tweede termyn as Amerikaanse president moet Suid-Afrika dwing om sy buitelandse beleid te heroorweeg en op ekonomiese groei te fokus. Amerika is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot na China. Van Zyl sê hoewel Suid-Afrika steeds die voordele van die Wet op Afrika-groei en Geleenthede geniet, beteken dit nie dat dit weer verleng sal word nie. Hy sê die land moet sy buitelandse beleid balanseer en ook geleenthede soek om handelsbande met Amerika te versterk:
# Kenners waarsku die dodelike veldbrande in Los Angeles kan ook in Kaapstad voorkom omdat dit ‘n soortgelyke klimaat, bergagtige topografie en plantegroei het. Die metro se Brand- en Reddingsdiens sê daar was in die 2023/’24-boekjaar meer as seweduisend brande. Elders in die Wes-Kaap het die brande by Knysna in 2017 gelei tot die dood van 12 mense, insluitend twee brandbestryders, en die verlies van eenduisend-444 huise. Die voorsitter van die Kaapse Skiereilandse Brandbeskermingsvereniging, Philip Prins, het aan Moneyweb gesê daar is ʼn behoefte dat brandpaaie onderhou en indringerplante verwyder word.
Meer as 30-duisend mense is intussen aangesê om hul huise noord van Los Angeles te verlaat nadat ‘n nuwe veldbrand in Kalifornië uitgebreek het. Nog 25-duisend mense woon in sones wat ontruimingswaarskuwings ontvang het. Die jongste brand, genaamd die Hughes-brand, het gisteroggend naby die Castaic-meer ontstaan, sowat 60 kilometer van die Eaton- en Palisades-veldbrande wat dele van L-A vroeër die maand verwoes het. Die Amerikaanse staat se Departement van Bosbou en Brandbeskerming sê die brand is tans 14-persent onder beheer.
# SA Rugby het ‘n ooreenkoms van vier jaar met een van die wêreld se grootste handelsmerke, Coca-Cola gesluit. Dit behels onder meer dat Coca-Cola se handelsmerk op al die Springbokspanne se wedstrydbroeke vertoon sal word. Dit tree môre in werking wanneer die Blitsbokke op die wêreldsewestoernooi in Perth, Australië, uitdraf. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het aan die SABC gesê die vennootskap verskaf ‘n broodnodige finansiële hupstoot vir SA Rugby:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-289-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….