Sportnuus 12:30
Bulletin Opskrifte
BULLETIN SPORTNUUS 23 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met krieket: Die verdedigende SA20-kampioen, Sunrisers Eastern Cape, is weer in die wedloop om ‘n plek in die uitspeelronde na ‘n oorwinning met 52 lopies oor Pretoria Capitals in Gqeberha. Dit was hulle derde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning. Kaptein Aiden Markram se onoorwonne 68 het bygedra tot die Sunrisers se 149 vir sewe in hul 20 boulbeurte. Snelbouler Marco Jansen het daarna vier paaltjies laat kantel en die Capitals help uitboul vir 97. Markram was vol lof vir Jansen:
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne kan na die naweek almal onder die voorste agt van die Verenigde Rugbykampioenskap wees. Die Bulle is tans vierde, die Haaie vyfde, die Stormers tiende en die Leeus twaalfde. Die Leeus verwelkom die Bulle op Ellispark, die Stormers speel weg teen Leinster en die Haaie pak Cardiff. Die Leeus moet die Bulle klop om die top-agt te haal en die Stormers is net een punt agter Edinburgh wat in die agste plek is. Hulle het een wedstryd meer oor as die Skotse span.
Sewesrugby: Die losvoorspeler van die Blitsbokke, Zain Davids, speel môre in sy 50ste toernooi vir die span in Perth, Australië, agt jaar nadat hy sy buiging in 2017 gemaak het. Dit is ‘n trotse oomblik vir die 27-jarige, gelykstaande aan sy vreugde met die eerste wedstryd. Davids, wat beskou word as ʼn sleutelspeler vir die Blitsbokke, is voornemens om as medekaptein met sy voorbeeld te lei om die span se wenmomentum van Kaapstad voort te sit:
# Sokker: Die Premiersokkerliga het alle wedstryde van Royal AM onbepaald opgeskort. Die Inkomstediens het die KwaZulu-Natalse klub wat aan die omstrede sakevrou Shauwn Mkhize behoort, onder kuratorskap geplaas weens meer as 40-miljoen-rand se belastingskuld. Royal AM het nog nie ‘n liga-wedstryd gespeel sedert sy nederlaag van drie-een teen TS Galaxy op 29 Desember nie, en het versuim om sy spelers en personeel se salarisse te betaal. Die PSL sê hy ontmoet Royal AM Vrydag om die klub ‘n kans te gee om sy saak te stel.
# En tennis: Die agste-gekeurde Emma Navarro vra ‘n reëlverandering nadat sy aan die ontvangkant was van ‘n omstrede beslissing in haar Australiese Ope-kwarteindstryd teen Iga Swiatek. Skeidsregter Eva Asderaki-Moore het beslis die Amerikaner het te laat appelleer nadat ‘n kykweer getoon het die bal het twee keer gebons voor die Pool dit teruggeslaan en die punt gewen het. Swiatek het 6-1, 6-2 gewen om deur te dring na die halfeindronde. Navarro sê spelers behoort na ‘n punt te kan appelleer selfs as hulle in so ‘n geval aanhou speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….