Nuus 08:00
BULLETIN 23 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is vol vertroue Suid-Afrika sal noue bande met die VSA handhaaf
# Advokaat Gauntlett tree af ná beskuldigings van seksuele misbruik
# En 19-duisend mense het ontruimingsbevele ontvang nadat ‘n nuwe brand in Los Angeles uitgebreek het
# President Cyril Ramaphosa sê hy is nie bekommerd oor Suid-Afrika se verhouding met Amerika onder president Donald Trump nie. Amerika is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot na China. Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, AGOA, wat doeanevrye toegang tot die Amerikaanse mark bied vir kwalifiserende lande in Afrika suid van die Sahara verstryk in September. Ramaphosa het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Switserland aan die media gesê Suid-Afrika is vol vertroue dat hy noue handels- en ekonomiese bande met Amerika sal behou:
# Die bekende senior advokaat, Jeremy Gauntlett, sê hy gaan aftree ná bewerings van seksuele aanranding. Die Algemene Balieraad het Dinsdag die bewerings vir ondersoek na die Kaapse Balieraad en die Johannesburg Vereniging van Advokate verwys. Wits-universiteit se senior dosent in sosiale antropologie, Hylton White, beskuldig Gauntlett dat hy hom in die 1980’s seksueel aangerand het. Gauntlett, wat oudpresident Jacob Zuma se senior raadgewer in die Nkandla-saak by die Konstitusionele Hof was, sê hierdie bewerings is ondraaglik vir hom en sy gesin.
# Gauteng Waterpolisiëring- en duikdienste het sedert die begin van Desember tot die 19de van hierdie maand 28 liggame op verskeie plekke in die provinsie gevind. Lede word elke Desember daagliks by die Bronkhorstspruit-dam, die Roodeplaat-dam en die Vaaldam ontplooi. ‘n Polisiewoordvoerder, Grant Giblin, sê swaar reën en oorstromings het bygedra dat lede tien duikoperasies om liggame te herwin, en 17 reddings- en herwinningsoperasies moes uitvoer:
# ʼn Nuwe brand wat vinnig versprei, het in Los Angeles uitgebreek. Sowat 19-duisend mense is beveel om te ontruim terwyl nog 15-duisend gewaarsku is. Die Hughes-brand noord van Castaic versprei noord van die Palisades- en Eaton-brande wat vroeër die maand minstens 28 lewens geëis het. ʼn Tronk in die Castaic-area met byna 500 gevangenes is ook ontruim. Die streek is onder ʼn rooivlag-waarskuwing teen ʼn hoë brandgevaar weens sterk wind, droë toestande en lae humiditeit.
# Krieket: Die verdedigende SA20-kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het die Pretoria Capitals in die Baai met 52 lopies verslaan en hul derde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning behaal. Kaptein Aiden Markram se onoorwonne 68 het bygedra tot die Sunrisers se 149 vir sewe in hul 20 boulbeurte. In reaksie daarop het snelbouler Marco Jansen vier paaltjies laat kantel en die Capitals was op 97 almal uit. Met hierdie oorwinning is Sunrisers terug in die wedloop om ʼn plek in die uitspeelronde te haal. Markram was vol lof vir Jansen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-870-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….