Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, verwelkom die bevindings in ‘n verslag van die Universiteit Stellenbosch wat die uitwerking van die departement se #BackOnTrack-leerprogram geëvalueer het. Die program sluit ekstra klasse oor naweke en vakansies vir leerders in, asook bykomende opleiding vir onderwysers. Die verslag toon die program werk en herstel onderrigverlies in die provinsie. Maynier sê die verslag beklemtoon ook probleme soos deelname en bywoning wat moet verbeter:
# Relate Bracelets sê hy bly daartoe verbind om benadeelde gemeenskappe te bemagtig. Die organisasie het meer as 80-miljoen-rand vir maatskaplike opheffing ingesamel deur meer as 4,4-miljoen handgemaakte krale-armbande te verkoop. Die armbande word gemaak deur die bejaardes van Ikamva Labantu Seniorsklubs in Kaapstad se townships, wat almal ’n inkomste verdien. Relate Bracelets sê hy skenk geld aan meer as 60 projekte, van wildbewaring en gesondheidsprogramme tot vroeë kinderontwikkeling en vrouebemagtiging.
# Die tweede seisoen van die Suid-Koreaanse drama, Squid Game, en die boksgeveg tussen Mike Tyson en Jake Paul het Netflix se intekenaarsyfer laat styg. Die stromingsdiens het teen die einde van 2024 wêreldwyd 301,63-miljoen intekenare gehad. Netflix sê Squid Game gaan een van die reekse word wat in sy eerste seisoen die meeste gekyk is, terwyl die boksgeveg die sportgeleentheid is wat die meeste ooit gestroom is. Die fliek Carry-On met Jason Bateman en Taron Egerton is ook op Netflix se toptienlys van alle tye.
# Die driemalige Oscar-benoemde, Ryan Gosling, onderhandel tans om die hoofrol te speel in ʼn nuwe Star Wars-fliek wat geskryf en geregisseer sal word deur Shawn Levy, wat Deadpool en Wolverine gemaak het. Die fliek is glo nie deel van die Skywalker-sage wat in 2019 met Star Wars: The Rise of Skywalker geëindig het nie. Gosling se jongste projek is die wetenskapsfiksieriller, Project Hail Mary, wat op Andy Weir se topverkoper gebaseer is. Dit sal na verwagting in Maart volgende jaar vrygestel word.
# En ten slotte: Wetenskaplikes van die Universiteit van Kaapstad het met behulp van Suid-Afrika se MeerKAT-radioteleskoop ‘n seldsame reuse-radiosterrestelsel met die naam Inkathazo ontdek, wat “moeilikheid” in Zoeloe en Xhosa beteken. Die geboë plasmastraal met ‘n omvang van 3,3 miljoen ligjare daag bestaande fisika-modelle uit. Navorsers beklemtoon hierdie mylpaal is ‘n groot stap om kosmiese verskynsels te begryp, voor die bekendstelling van SKA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….