Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier mense is in Motherwell in die Oos-Kaap doodgeskiet
# Tennis: Elena Rybakina soek ‘n nuwe afrigter na haar vertrek uit die Australiese Ope
# En ‘n derde van die Noordpoolstreek stel nou meer koolstof vry as wat dit opneem
# Vier mense is doodgeskiet en een beseer toe drie onbekende mans gisteraand in ‘n huis in Motherwell in die Oos-Kaap op ‘n groep vriende losgebrand het. ‘n Polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê drie mans tussen die ouderdomme van 20 en 25, asook ‘n 16-jarige meisie is doodgeskiet en ‘n 24-jarige man is gewond. Sy sê die motief is onduidelik en is deel van die ondersoek:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die betaling van universiteitsaansoekfooie wat lei tot ‘n uitermatige wins vir die instellings selfs al word die aansoeke afgekeur. Een universiteit het glo meer as 600-duisend aansoeke ontvang en elke aansoeker het ‘n aansoekfooi van 200-rand betaal. Die universiteit het dus ‘n wins van 150-miljoen-rand gemaak. Die vereniging se woordvoerder, John Teffo, sê die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, moet die nie-terugbetaalbare aansoekfooi afskaf en leerders toelaat om gratis by universiteite aansoek te doen:
# FNB se senior ekonoom, Thanda Sithole, sê hulle verwag dat die voortgesette opskorting van beurtkrag en die geleidelike bestendiging van logistieke stelsels, mynproduksie oor die nabye tot medium termyn sal ondersteun. Suid-Afrika se minerale uitset het in November verswak na drie agtereenvolgende maande van groei. Dit het op ‘n jaar-tot-jaar-grondslag met 0,9-persent gedaal, hoofsaaklik weens die goudsektor. Sithole sê buiten goud het mynuitset oor dieselfde tydperk met 0,7-persent gegroei:
# Tennis: Die wêreld-nommer-sewe, Elena Rybakina van Kazakstan, is op soek na ‘n nuwe afrigter nadat haar toetskontrak met 2001 se Wimbledon-kampioen, Goran Ivanisevic, verstryk het met haar vertrek uit die Australiese Ope. Sy het in die vierde ronde in Melbourne teen die Amerikaner Madison Keys verloor. Rybakina en die Kroaat het verlede maand begin saamwerk nadat hy voorheen die 24-malige Grand Slam-kampioen Novak Djokovic van Serwië afgerig het. Rybakina oorweeg dit glo om haar vorige afrigter terug te bring – Stefano Vukov, ook van Kroasië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-953-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-756-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Derde van Arktiese woude en vleilande stel nou meer koolstofdioksied vry as wat dit opneem. ʼn Nuwe studie in Nature Climate Change skryf dit toe aan langer groeiseisoene, groter mikrobiese bedrywighede en ʼn toename in die voorkoms en intensiteit van veldbrande. Meer as 40-persent van die Arktiese ekostelsel, wat Siberië, Alaska, die Nordiese lande en Kanada insluit, dien as ʼn netto koolstofbron. Die studie se medeskrywer, Marguerite Mauritz, sê daar is ʼn dringende behoefte dat die Arktiese ekostelsels steeds gemonitor word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….