Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Tennis is vandag eerste aan die beurt: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek van Pole, het slegs 14 potte afgestaan onderweg na haar tweede Australiese Ope-halfeindstryd. Die wêreld-nommer-twee het die Amerikaner Emma Navarro in die kwarteindronde verslaan en speel môre teen nog ‘n Amerikaner, Madison Keys, vir ‘n plek in die eindstryd. Keys het haar derde halfeindstryd in Melbourne gehaal met ‘n oorwinning in drie stelle oor Elina Svitolina van Oekraïne. In die ander halfeindstryd pak die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Spanjaard Paula Badosa.
Die wêreld-nommer-sewe, Elena Rybakina van Kazakstan, is intussen op soek na ‘n nuwe afrigter nadat haar toetskontrak met 2001 se Wimbledon-kampioen, Goran Ivanisevic, verstryk het met haar vertrek uit die Australiese Ope. Sy het in die vierde ronde in Melbourne teen Keys verloor. Rybakina en die Kroaat het verlede maand begin saamwerk nadat hy voorheen die 24-malige Grand Slam-kampioen Novak Djokovic van Serwië afgerig het. Rybakina oorweeg dit glo om haar vorige afrigter terug te bring – Stefano Vukov, ook van Kroasië.
# Vervolgens, rugby: Wallis se hoofafrigter, Warren Gatland, besef almal skryf die sukkelende span af voor die begin van vanjaar se Sesnasiesreeks. Die land kon in die groepsafdeling van 2023 se Wêreldbekertoernooi laas ‘n toets wen, waarna hulle in die kwarteindronde teen Argentinië verloor het. Wallis was laaste in verlede jaar se Sesnasies. Gatland sê hulle sal selfvertroue en selfgeloof moet skep in hulle soeke na ‘n eerste oorwinning op die Stade de France in ses jaar wanneer hulle Frankryk volgende naweek in die eerste ronde in Parys pak.
# Nou motorsport: Haas het Laura Mueller as die eerste vroulike wedreningenieur in Formule Een aangestel na groot verandering aan die span. Die Duitser sal saam met die nuutaangestelde renjaer, Esteban Ocon, werk terwyl ‘n ander vrou, Carine Cridelich, voorheen van Red Bull se Racing Bulls-span, die hoof van strategie word. Francesco Nenci is die nuwe hoofingenieur. Die Amerikaans-gebaseerde Haas wil voortbou op die sewende plek verlede seisoen in die vervaardigerskampioenskap met ‘n nuwe span bestuurders wat Ocon en Oliver Bearman insluit.
# En ons sluit af met sokker: Liverpool is steeds onoorwonne in die Kampioeneliga na hulle Lille se tienmanspan op Anfield geklop het om hulle plek in die laaste sestien te verseker. Mohamed Salah se 50ste doel in Europa en Harvey Elliott het die sege vir Arne Slot se span beklink. Barcelona het Benfica van agter ingehaal vir ‘n oorwinning van vyf-vier om hulle plek in die laaste sestien te verseker. Juventus en Club Brugge het gelykop gespeel. Slot is tevrede met sy span se vertoning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….