Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Energie, Kgosientsho Ramokgopa het aan wêreldleiers by die Wêreld Ekonomiese Forum gesê Afrikalande het politieke bestendigheid nodig om beleggers te lok, maar verkiesings soos in Mosambiek kan beleggings ontspoor.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het by die WEF gesê Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid was nodig vir bestendigheid en inklusiewe regering.
Dan skryf die koerant ‘n boervrou van Aliwal-Noord, die 46-jarige Anélle de Bruin is op borgtog vrygelaat nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy na bewering haar man, Johan in ‘n plaasmoord wou laat vermoor.
En ten slotte word berig die 40-jarige boer van Frankfort in die Vrystaat wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n 16-jarige seun wat vakansiewerk gedoen het verkrag het, word na bewering ook met ander voorvalle verbind.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die sekretaris-generaal van die EFF, Marshall Dlamini gaan vandag ‘n strafregtelike saak teen die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean MacPherson open omdat hy na bewering ‘n personeellid van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust gedwing het om ‘n kontrakteur te betaal.
# Sowetan:
Berig City Power het sy tegnici aan ondergrondse werk in Johannesburg se tonnels onttrek nadat daar op hulle geskiet is. Sakeondernemings moet nou die gevolge dra van vertragings met die herstel van kragtoevoer in dele van die middestad.
# En The Citizen:
Skryf daar is tans 1,6-miljoen meer leerders as in 2009 en twee-duisend minder skole. AfriForum sê die Departement van Basiese Onderwys bestee nie sy begroting op die regte plek nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die skuldeisers van die maatskappy wat die huis in Hermanus besit waar Markus Jooste die laaste paar jaar gebly het, is deur die hof verhoed om dit te verkoop om hul skuld te delg.
En tweedens skryf die koerant die polisie in Macassar het op 57 krewe en 876 kreefsterte beslag gelê en ‘n 28-jarige man in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die behandeling van pasiënte by Gqeberha se regeringsonkologie-eenhede, is in gedrang weens die Departement van Gesondheid se beweerde versuim om sy verskaffers te betaal.
En tweedens skryf die koerant oor die tienduisende skoolverlaters met universiteitsvrystelling waarvoor daar nie plek in tersiëre instellings is nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die burgemeester van die Msunduzi Plaaslike Munisipaliteit, Mzimkhulu Thebolla het sy meesterplan vir Pietermaritzburg se sakekern bekendgemaak.
En berig tweedens oor Eskom se rekord van ‘n jaar sonder beurtkrag wat teen Maart bereik sal word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Finansiële Intelligensiesentrum en die kantoor van die Namibiese aanklaer-generaal het beslag gelê op meer as 52-miljoen-rand in tien Namibiese bankrekeninge.
Dan skryf die koerant die polisie ondersoek die moontlikheid dat sommige van sy beamptes of privaat sekerheidswagte moontlik betrokke kan wees by die diefstal van 446 diamantpakkies by Namib Desert Diamonds.
En laastens is daar nuus oor die bekende speurder Nelius Becker wat aansterk nadat hy albei sy enkels gebreek het.