Nuus 06:00
BULLETIN 22 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa skets Suid-Afrika se G20-prioriteite
# AfriForum sê die arrestasie van ‘n misdaadbewaarder ontbloot die risiko’s van oorhaastige werwing
# En Donald Trump se kripto-geldeenheid stort in duie
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal tydens sy G20-presidentskap konsentreer op solidariteit, gelykheid en volhoubare ontwikkeling. Die G20 is belangrik in die vorming en versterking van die globale onderbou en bestuur van belangrike internasionale ekonomiese kwessies. In sy toespraak by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, sê Ramaphosa dit is belangrik om samewerking te bevorder om die uitdagings wat die wêreld in die gesig staar die hoof te bied:
Ramaphosa vra intussen ook vir globale samewerking om uitdagings van die 21ste eeu, soos klimaatsverandering, pandemies, armoede en geopolitieke spanning die hoof te bied. Hy het in sy toespraak beklemtoon dat verenigde optrede van deurslaggewende belang is om hierdie krisisse aan te pak en vooruitgang vir alle nasies te verseker. Ramaphosa het wêreldleiers versoek om voorrang te gee aan samewerking en het die rol van instellings soos die G20, in die bevordering van solidariteit en inklusiewe groei beklemtoon, veral vir die wêreld se armstes en kwesbaarstes:
# AfriForum sê die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het politieke gewin bo openbare veiligheid geplaas met sy program vir misdaadvoorkomingsbewaarders. Dit volg op die inhegtenisneming van ‘n bewaarder vir beweerde betrokkenheid by ‘n gewaande ontvoering en rooftog. Die burgerregte-organisasie sê onvoldoende opleiding en swak keuringsprosesse ondermyn die integriteit van die program, wat gemeenskappe in gevaar stel. AfriForum-woordvoerder, Jacques Broodryk, versoek inwoners om Lesufi se afdanking te eis oor die mislukkings van die program:
# Die vermeende bendebaas, Nafiz Modack se regsverteenwoordiger, advokaat Bashier Sibda, het aangevoer dat die staat se saak teen sy kliënt gebrekkig is aangesien baie van die getuies nie geloofwaardig is nie. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Modack en twee van sy medebeskuldigdes se aansoeke aangehoor dat aanklagte teen hulle teruggetrek word. Die vermeende bendebaas en sy 14 medebeskuldigdes staan tereg op 122 aanklagte waaronder moord, korrupsie en geldwassery. Regter Robert Henney het gesê dit is onwaarskynlik dat hy die aansoek sal toestaan.
# Die waarde van Donald Trump se amptelike kripto-eenheid het binne 24-uur met 32-persent getuimel. Dit kom te midde van die Amerikaanse president se verbreking van sy verkiesingsbelofte om pro-kripto-beleid op sy eerste dag af te kondig. Sy meme-munt $TRUMP is nou die helfte minder werd as die rekord-hoogtepunt van twee dae gelede. Die presidentsvrou se munt, $MELANIA, het selfs slegter gevaar en binne 24-uur met 61-persent getuimel. Die besluit om hulle eie kripto-eenhede bekend te stel het erge kritiek ontlok, selfs van voorstanders van Bitcoin en Trump-ondersteuners.
# Motorsport: Haas het Laura Mueller as die eerste vroulike wedreningenieur in Formule Een aangestel na groot veranderinge aan die span. Die Duitser sal saam met die pasaangestelde renjaer, Esteban Ocon, werk terwyl ‘n ander vrou, Carine Cridelich, voorheen van Red Bull se Racing Bulls-span, die hoof van strategie word. Francesco Nenci is die nuwe hoofingenieur. Die Amerikaans-gebaseerde Haas wil voortbou op die sewende plek verlede seisoen in die vervaardigerskampioenskap met ‘n nuwe span bestuurders wat Ocon en Oliver Bearman insluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-72-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….